Weerlose oumense mishandel deur werkers AD Care-Groep

Oues mishandel
Weerlose oumense mishandel deur werkers AD Care-Groep: Foto: die been van ‘n oumens wat deur een van die werkers geskop is.

Familielede van bejaardes met alzheimersiekte en demensie is ontstig nadat hulle ’n e-pos gekry het oor beweerde vergrype van ’n bekende versorgingsgroep.

Die AD Care-groep bestaan uit sewe sorgsentrums in Gauteng wat verswakte pasiënte teen tussen R7 000 en R15 000 per maand versorg.

Die brief is aan 160 pasiënte se families gestuur.

Die skrywers is Hannes en ­Dean Oosthuizen, ’n egpaar van Pretoria wat by die groep gewerk het as onderskeidelik ’n boekhouer en bestuurder.

Maar dit blyk nou dat die egpaar al hul aantygings onvoorwaardelik teruggetrek het.

In ’n beëdigde verklaring wat Rapport gesien het, beweer die Oosthuizens dat hulle “wraaksugtig en kwelsugtig” opgetree het en dat hul beskuldigings ongegrond is.

Die Oosthuizens sê in hul teruggetrekte brief hulle is besorg oor die oues wat diep in hul harte ingekruip het.

“Die Ad Care-groep doen homself voor as ’n nie-winsgewende organisasie, maar (mede-eienaar) Suzette (Botha) ry ’n nuwe
Fortuner en kry elke week botox en haarverlengings,” lui die e-pos wat hulle versprei het.

Suzette en haar man, André, beklemtoon egter dat hulle heeltemal geregtig is om hul drie kinders se motorpaaiemente, huurgeld vir ’n woonstel in Ballito en persoonlike uitgawes te betaal omdat die AD Care-groep private, winsgewende maatskappye is.

André sê hul drie seuns werk vir die onderneming, onder meer as loodgieter en bemarker, en die paaiemente is vir hul werkmotors.

Suzette het die woonstel in Ballito net tydelik gebruik omdat hulle oorweeg het om ’n tehuis daar ook te begin.

André sê net een maatskappy in die groep is ’n nie-winsgewende organisasie (NWO) omdat hulle na ’n paar hulpbehoewendes omsien wat nie die maandelikse huur kan bekostig nie.

André is ook ontstig omdat die aanranding van ’n pasiënt in Oktober verlede jaar in hul sentrum in Pretoria-Oos weer deur die Oosthuizens opgehaal is.

’n Klag is teen een van die versorgers by die polisie aanhangig gemaak nadat ’n bejaarde alzheimerpasiënt se been oopgeskop is.

“Ons het die voorval aangemeld. Daar is 250 versorgers onder ons beheer en ongelukke gebeur. Ons kan nie elkeen van hulle heeltyd dophou nie.”

Hy sê die pasiënt het goed herstel.

André sê die Oosthuizens is kwelsugtig omdat Dean by ’n Johannesburgse tak afgedank is.

Luidens ’n arbeidskonsultant se bevinding in sy tugverhoor, wat André aan Rapport verskaf het, het Dean in werktyd drank gebruik saam met die pasiënte.

“Hy het saam met twee van die pasiënte, een van hulle ’n ongerehabiliteerde alkoholis, gedrink,” sê André.

Die oues het hulself so pap gedrink dat hulle na hul beddens toe gedra moes word, voeg ­André by.

Die Bothas is besig om ’n aansoek om ’n interdik teen die Oosthuizens voor te berei.

André bevestig dat AD Care se NWO gebruik word om kosskenkings by Woolworths te kry.

Dit is dié NWO-sertifikaat wat prominent opgeplak is by die ingangsportaal van die Pretoria-Oos-sentrum wat Rapport besoek het. Dit is in 2011 aan die Altzheimer (sic) and Dimentia Care Centre uitgemaak.

Dié maatskappy is egter volgens die maatskappyregister al sedert 2012 in vrywillige likwidasie.

Die departement van maatskaplike ontwikkeling het aan Rapport bevestig die NWO was geregistreer, maar voldoen al sedert 2012 nie aan die vereistes nie en het verskeie jaarverslae uitstaande. André erken die NWO is nie tans geregistreer nie, maar wel in die proses om weer geregistreer te word. “Ons was nie bewus dat daar jaarliks vorms ingevul moet word nie, maar stel dit nou reg.”

Rapport het verskeie pasiënte se kinders genader oor die versorging by AD Care se tehuise.

Linda Venter, wie se ma in ’n tehuis in Johannesburg was voor sy in Februarie dood is, sê haar ma se morfienpleisters het die dag van haar dood in die laai langs haar bed gelê.

“ ’n Vol bottel antibiotika, wat ons die vorige week by die apteek gaan haal het, was nie eens ingeteken nie.”

André sê die medikasie is sonder ’n voorskrif ingedien.

Nog twee ander familielede het klagtes gehad, maar ander was baie gelukkig met AD Care se diens.

André het ’n bundel vol komplimente aan Rapport verskaf van families wat hul dank uitspreek vir die groep.

Bron- Netwrk24

Enjoyed this post? Share it!