Wees gewaarsku, nuwe verkeerswet bring puntestelsel in

Die nuutste Aarto wet is die parlement goedgekeur ten spyte van ‘n sterk pleidooi daarteen deur VF Plus.

Dit baan die weg vir die inwerkingstelling van ‘n strafpunte stelsel waar eienaars van voertuie gepenaliseer word op ‘n stelsel wat kan lei tot die weiering om lisensies te hernu.

Waarnemers is skepties oor wat werklik gaan gebeur met taxi’s wat roekeloos en wetteloos die paaie misbruik.

VF Plus sê dat die Wet op die Administratiewe Beregtiging van Padverkeersoortredings (Aarto), misluk het en ʼn bewys is van die ANC-regering se onvermoë om ʼn wet van hierdie omvang uit te voer.

Adv. Anton Alberts, die VF Plus se parlementêre woordvoerder oor vervoer met die Tweede Lesingdebat van die Wysigingswetsontwerp op Aarto gesê die bedoeling met die wet was goed, naamlik om padveiligheid te bevorder. Onder die ANC het dit egter in ʼn burokratiese moeras verander wat padongelukke en sterftes laat toeneem het.

Volgens adv. Alberts is daar hoofsaaklik twee redes hiervoor: Die eerste is dat die wet nie deur die Aarto-owerhede self uitgevoer word nie. Hy sê indien wetstoepassers nie eens hulle eie magtigende wet kan uitvoer nie, kan daar nie verwag word dat padgebruikers die wet sal eerbiedig nie.

“Ons het onlangs gesien hoe ʼn boetebestuursdiensverskaffer, Fines4U, ʼn hofbevel teen die Padverkeersoortredings-Agentskap (RTIA) verkry het. Die uitspraak was verdoemend in soverre daar beslis is dat RTIA geen ag slaan op die toepassing van die Aarto-wet nie.

“Ons het mettertyd gesien hoe die Aarto-owerhede buite die riglyne van die wet optree deur boete-kennisgewings per normale pos te stuur, deur padblokkades op te stel en padgebruikers met arrestasie te dreig indien boetes nie dadelik betaal word nie en deur nie die voorgeskrewe tydsbeperkings om kennisgewings uit te stuur, na te kom nie.

“Hierdie optredes was ultra vires, of buite die raamwerk van Aarto se magte, maar dit het die owerhede nie verhinder om daarmee voort te gaan nie.

“Die Fines4U-uitspraak het laat blyk dat die meeste Aarto-kennisgewings wat uitgereik is sedert die aanvang van die toetsfases daarvan in Gauteng, moontlik onwettig is, en dit kan lei tot ʼn klasaksie teen RTIA vir onregmatige verryking.

“Dit is insiggewend dat daar geen Aarto-hof tot op datum ingestel is om kennisgewings te bereg nie, wat beteken dat al die kennisgewings in ‘n administratiewe doodloopstraat beland het wat dit ongeldig en onafdwingbaar maak.

“Die tweede rede vir die mislukking van Aarto is dat motoriste bewus geword het van die RTIA se nie-nakoming van die wet. In ‘n opstand soortgelyk aan dié van die e-tol, het baie padgebruikers eenvoudig enige oortredings-kennisgewings geïgnoreer.

“Aangesien die Aarto-wet nie werk nie en die strafproseswet nie gebruik word om die nasionale padverkeersoortredings te polisieer nie, vind daar geen behoorlike wetstoepassing plaas nie. Motorbestuurders, wat daarvan bewus is, het hul bestuursgedrag aangepas by dié wettelose omgewing wat Aarto geskep het. Paaie het gevaarliker geword.

“Om hierdie redes is die wysigings wat nou voorgestel word, sinneloos. Ons weet dat Aarto gaan aanhou faal wanneer dit by die uitvoering daarvan kom. Dit is tyd dat die ANC erken dat hy nie ʼn komplekse stuk wetgewing soos Aarto kan uitvoer nie. Dié wet se mislukking het gewys dit het tyd geword vir ʼn bevoegde regering,” sê adv. Alberts.


Enjoyed this post? Share it!