Welbekende boer in Groblersdal sterf na plaas aanval – gemeenskap in rou gedompel

’n Welbekende inwoner van die Groblersdal omgewing is Sondag dood nadat hy en sy familie op sy plaas oorval is deur agt aanvallers.

“Oom, kry asseblief vir ons ’n ambulans. Hulle het my pa sleg geslaan,” was die pleidooi oor die radio deur een van Herman Botha se seuns, kort voor sy pa dood is.

Volgens inligting van Kobus Hildebrand, voorsitter van Groblersdal Buurtwag, wat die radio kontrolekamer beman het tydens die aanval, het die noodroep vanuit mnr. Botha se huis om 11:30 gekom.

Boere en lede van die buurtwag is dadelik gemobiliseer.

Mnr. Botha en een van sy seuns was op pad terug huistoe van die beeste af. Sy vrou, Meisie, en haar skoondogter asook hul kleinkinders het ook pas teruggekeer van die kerk af. Die Botha familie is toe in die plaashuis oorval.
Mnr. Botha en sy seuns, Nico en Barend, is aangerand. Mnr. Hildebrand sê sover hy bewus is, is mnr. Botha nie geskiet soos wat daar berig word nie. Die aanvallers is weg met ’n wit Toyota Etios motor en ’n onbekende aantal vuurwapens wat aan mnr. Botha behoort het.

Die dringende versoek vir ’n ambulans is kort daarna oor die radio gemaak. Swift Emergency Medical Services se ambulans het mnr. Botha op die toneel kom haal en dadelik versoek vir ’n helikopter om hom te kop oppik. ER 24 se helikopter het op die Groblersdal rugbyveld geland. Mnr. Botha is egter dood voordat hy in die ambulans gelaai kon word.

Gemeenskapslede het die Etios kort daarna verlate by die Loskopdam winkelsentrum gekry, met van die vuurwapens nog daarin. ’n Verdagte Toyota Fortuner is op die N11 gejaag maar verloor kort nadat dit op die Elandsdoorn grondpad afgedraai het. Die voertuig is later verlate, sowat 20 km van die toneel af gekry.

Twee verdagtes is gearresteer nadat hulle gesien loop en voorgekeer is. Daar is twee vuurwapens in hul besit gekry en daar kon later vasgestel word dat die vuurwapens in mnr. Botha se naam geregistreer was.

Na wat verneem word is daar laat Sondagaand ’n derde verdagte gearresteer. Daar kon nog nie vasgestel word of hy positief met die voorval verbind word nie.

Lt. kol. Moatshe Ngoepe, Limpopo polisiewoordvoerder, sê dat die polisie nog probeer vasstel aan wie die Fortuner behoort. Hy het in ’n persverklaring gesê dat die polisie ’n grootskaalse soektog na die oorblywende verdagtes geloods het. Enige iemand met inligting kan kapt. Richard Boshomane by 079 894 5501 bel.

Mnr. Botha was ondermeer die hoof van die Sekhukune Landelike Veiligheid, asook vroeër ’n bevelvoerder in die weermag. Hy was in sy laat 60’s.

“Hy het sy hele lewe in Groblersdal gebly. Almal het hom geken. Dis ’n baie groot verlies,” het mnr. Hildebrand gesê.

Deur: Jana Boshoff/Middelburg Observer


Enjoyed this post? Share it!

 
  • Lianke Carter

    Dis baie sad, sterkte aan die famielie en die gemeenskap.