Wenke met Koeksoda

 

1. Laat vlekvryestaal-wasbakke weer blink

As jy jou vlekvryestaal-wasbak so blink wil hou soos die dag toe dit ingesit is, vee gereeld jou wasbakke met ’n mengsel van koeksoda en sodawater uit. Jykanook hierdie mengsel in ’n sproeikannetjie gooi en ander vlekvryestaal-toestelle daarmee skoonmaak, soos jou ketel of broodrooster. Sproei die oplossing op die toestelle en vee met ’n klam lap af. (Wees versigtig naby die drade en elemente.)

 

2. Ontblok jou drein

As ’n voorkomende maatreël, gooi omtrent ’n kwart blikkie koeksoda elke maand in jou drein. As jou afvoerpyp verstop is, meng ’n halwe blikkie koeksoda met ’n koppie warm witasyn. Gooi dit in die afvoerpyp en wag sowat twee ure voordat jy warm water in die pyp afspoel.

 

3. Raak ontslae van lipvelletjies

Behandel droë lippe met ’n afdopmiddel wat van koeksoda en ’n paar druppeltjies suurlemoensap gemaak is. Spoel af en wend ‘lip ice’ of lipsalf aan.

 

4. Maak jou bad, stort en handwasbak silwerskoon

Meng vier eetlepels koeksoda met twee eetlepels witasyn om ’n pasta te maak. Skrop jou stortdeure, bad en wasbak met die pasta en vee of spoel dit met koue water af. Jykan’n ou tandeborsel gebruik om al daardie hoekies en gleufies by te kom om vuilgoed wat mettertyd opgebou het te verwyder, veral in jou stort.

 

5. Vryf (geel)koperitems blink

Sprinkel ’n bietjie koeksoda op ’n halwe suurlemoen en skrop die (geel)koperitem skoon. Spoel af en maak seker dat jy die item ordentlik afdroog.

 

6. Verwyder gaga reuke uit jou yskas

Plaas ’n bord met koeksoda in die yskas om enige slegte reuke te absorbeer. Roer die koeksoda elke nou en dan en vervang dit elke twee maande. As jy jou yskas wil afsit terwyl jy ’n rukkie weggaan, is dit ook ’n goeie plan om die binnekant en rakke met ’n oplossing van koeksoda en koue water af te vee voordat jy vertrek, asook wanneer jy terugkom.

 

Let wel: Soos met enige ander skoonmaakmiddel, wend enige van die bogenoemde oplossings eers op ’n toetsarea aan.

Bron – Goeie Huishouding

Enjoyed this post? Share it!