Werkloosheid knel Vrystaat

werkloos

Die kwartaallikse arbeidsmagopname van Statistieke SA (SSA) wat Maandag uitgereik is, wys die amptelike werkloosheidspersentasie in die Vrystaat het met 3,5% tot 33,9% toegeneem, die hoogste aangetekende persentasie van al nege provinsies in die land.

Intussen het die ekonoom Dawie Roodt op Thaba Nchu gewaarsku dat dit is ’n tikkende tydbom is

SSA sê werkloosheid het in die eerste kwartaal van die jaar gestyg tot 26,7% van die arbeidsmag. Dit is die hoogste vlak sedert die huidige metode van die aantekening van die syfers in 2008 in gebruik geneem is.

In die vorige drie maande was die syfer 24,5%.

Die getal werklose mense het met 521 000 toegeneem en staan nou op 5,72 miljoen landwyd.

In die Vrystaat is 405 000 mense amptelik werkloos.

Van die bevolking van 1,872 miljoen mense van indiensnemingsouderdom in die Vrystaat het net 790 000 werk. Meer as 1 miljoen mense is dus ekonomies onaktief.

Die DA in die provinsie sê die party het met leedwese verneem dat net meer as 12 000 meer mense in die Vrystaat nou ook werkloos is.

Roy Jankielsohn, DA-lid in die Vrystaatse wetgewer, sê die toename in werkloosheid in die Vrystaat is die gevolg van die feit dat die Vrystaatse premier, Ace Magashule, nie daartoe verbind is om gunstiger beleggingsomstandighede vir voornemende beleggers te skep nie.

Wouter Wessels, Vryheidsfront Plus-lid in die Vrystaatse wetgewer, sê die provinsiale regering bevorder nie volhoubare werkskepping deur die uitgebreide openbarewerke-program nie.

Volgens Wessels verhoog die regering sy loonrekening deur werkgeleenthede in die staat te probeer skep pleks van om ’n gunstiger omgewing vir private ondernemings te skep om werkgeleenthede daar te skep.

Khotso Morapela, provinsiale voorsitter van die EFF, sê Magashule moet ophou om inwoners van die Vrystaat te benadeel deur eerder buitelanders in beskikbare poste aan te stel totdat die ekonomiese omstandighede verbeter het.

Morapela sê die oorsese reise wat deur lede van die provinsiale regering onderneem word om beleggers na die Vrystaat te lok het geen sukses opgelewer nie.

Setjhaba Maphalla, woordvoerder van die provinsiale regering, sê in ’n provinsie wat grootliks uit plattelandse gebiede bestaan, is werkloosheid veral ’n groot probleem wat die lewensgehalte van die inwoners negatief raak.

Die Vrystaatse leiers ontleed die statistieke nou voordat hulle daarop sal reageer, sê Maphalla. – Netwerk 24

Enjoyed this post? Share it!