Wilhelm Verwoerd se verwydering van H.F. Verwoerd plaket flouerig en simplisties sê Wynand Boshoff

Die lees van my neef Wilhelm se toespraak toe hy aan die verwyderingseremonie van ‘n H.F. Verwoerd-plaket deelgeneem het, het my teleurgestel. Nie omdat ek van sy sentimente en menings onbewus was nie, want dit is ou nuus. Miskien eerder omdat hy nie met iets sterker vorendag gekom het nie; omdat dit ‘n flouerige oproep is om, soos hy, ten spyte van jouself en jou agtergrond, liewer vir die “goeie” as die “slegte” te kies. En boonop omdat hy die “goeie” en “slegte” so eenvoudig vind om raak te sien. Maar liewer as om sy “salwing van die verlede” punt vir punt te probeer antwoord, konfronteer ek dit met ‘n meer komplekse siening van die werklikheid en die geskiedenis.

Dat die oorwinnaar die geskiedenis skryf, is ‘n waarneming so oud soos die berge. ‘n Meer onlangse verwagting is dat die verloorder die oorwinnaar se siening moet deel. Van ouds het elke volk sy land en sy god gehad; elk ten volle oortuig van sy reg, al verloor hy die oorlog. Selfs mede-Christene in vyandige kampe was elkeen oortuig van sy eie reg voor God.

Na die Eerste Wêreldoorlog het die Geallieerdes die eerste maal gepoog om Duitsers te dwing om te aanvaar dat hulle nie alleen verloor het nie, maar ook verkeerd was. Met die pistool teen die kop het die Duitsers geteken, en van daardie dag af ‘n wrok gekoester. Die grootste Geallieerde oorwinning van die Tweede Wêreldoorlog was om Duitsers die skuld te laat aanvaar. Ten spyte van oorlogsmisdade aan albei kante, is slegs dié van Duitsers verhoor en gestraf.

Na 1994 beleef Afrikaners iets soortgelyk. Maar kom ons gaan haal die Suid-Afrikaanse storie verder terug.

Sedert ongeveer 1800 is die Suid-Afrikaanse geskiedenis gekenmerk deur ‘n magstryd (verskeie magstryde) tussen Afrikaners, die Britse Ryk en die swart mense van Suid-Afrika. Afrikaners (Boere) het hulle gevestig waar hulle hulleself teenoor swart stamme kon handhaaf. ‘n Diplomatieke proses van regte vestig het soms op militêre aksie uitgeloop, maar die Boere kon nooit ‘n klinkende oorwinning oor swart stamme behaal nie. Dit was juis die sentrale rede hoekom Brittanje die Zuid-Afrikaansche Republiek (ZAR) in 1877 geannekseer het, voor dit in 1881 teruggehandig is.

Die ontdekking van goud in die ZAR in 1886 het die Boere se militêre onvermoë om swart stamme finaal te onderwerp, vir Britte van die komieklike na die skadelike laat beweeg. Die myne het arbeid benodig, wat die grootliks selfversorgende swart stamme net in genoegsame hoeveelhede sou lewer as hulle gedwing word. Die Britse oorwinning van 1902 het hulle in staat gestel om die trekarbeid-stelsel, wat reeds bestaan het, meer doeltreffend te maak en af te dwing. Die kern van die administratiewe taak in “Naturelle-reservate” was om die arbeidsvloei só te reguleer, dat daar altyd genoeg, maar nooit te veel nie, swart arbeiders in die mynstede beskikbaar sou wees. Ontwikkeling van dié gebiede was nie eers ‘n oorweging nie. Dit was die geval tot dr. H.F. Verwoerd in 1950 Minister van Naturelle Sake geword het.

Waar swart weerstand teen blanke oorheersing in die negentiende eeu oorwegend stamgedrewe was, het Britse sendingskole mettertyd ‘n nuwe klas van swartmense tot stand gebring – die wat ingevolge koloniale beleid, opgelei moes word om die kolonies namens Brittanje te regeer. Die opvoedingsdoel aan hierdie instansies was om ‘n klein groepie swartmense met die “nodige potensiaal” te identifiseer en ten volle te verEngels. Hulle finale lojaliteit moes aan Brittanje wees, en nie aan die stam waaruit hulle gekom het nie. Soos dié soort proses ook elders gewerk het, het dit in Suid-Afrika ‘n bykomende groep geskep, wat op mag aanspraak maak – ‘n verwestersde swart elite.

Aanspraakmakers op mag in Suid-Afrika was dus in die twintigste eeu:

  • Aanhangers van die Britse Ryk, wat in Britsheid en die Engelse taal die ruimste en hoogste kulturele uitdrukking in die wêreldgeskiedenis gesien het. Die hoogste eer wat hulle Afrikaners of swartmense kon toebring, was om hulle binne dié geledere te aanvaar.
  • Afrikanernasionaliste, wat rondom eie volk, eie taal, eie land gemobiliseer het. Hulle het bykans magteloos teen Britse kulturele mag aan die een kant, en swart getalle aan die ander kant, gevoel. Tog kon hulle die twee magte te bowe kom deur hulle volle sosio-ekonomiese spektrum in eie taal en kultuur te bemagtig; van “armblank” tot wêreldklas in twee geslagte.
  • Verskeie swart stamme, wat wrokkig oor hulle onderhorige status was, maar nie veel daarteen kon uitrig nie.
  • ‘n Klein maar groeiende swart elite (Swart nasionaliste), wat hulleself toenemend as die eintlike erfgename van Suid-Afrika gesien het. Hulle grootste struikelblokke was blanke mag (Engels of Afrikaans) en die verdelende effek van stamlojaliteit. Hulle stryd sou wees om dié twee te oorwin. Namate die eeu gevorder het, het ‘n doodstryd tussen Swart nasionaliste en Afrikanernasionaliste al meer onafwendbaar gelyk.

xrsa1

 

 

Nou iets oor H.F. Verwoerd. Hy het Stellenbosch kort na die Eerste Wêreldoorlog bereik as ‘n jong student met goeie skoolprestasies, maar sonder “kontakte”. Tog het hy hom as knap student, debatteerder en leier onderskei, sodat hy die buitengewone eer van ‘n Rhodes-studiebeurs na Oxford aangebied is – en geweier het. Liewer vir hom, ‘n doktorsgraad aan die Universiteit van Stellenbosch, waar op daardie stadium nog geen student gepromoveer het nie, want alleen só sou ons Afrikaneruniversiteite status verwerf.

Na verwerwing van ‘n doktorsgraad in die Sielkunde het hy in 1925 ‘n studietoer na Duitsland (waar Nasionaal-Sosialisme nog geen faktor was nie – veral nie in die Akademia nie) en die VSA onderneem. Hy het as professor in Sielkunde na Stellenbosch teruggekeer, maar spoedig die nuutste ontwikkeling in die internasionale geesteswetenskappe, Sosiologie, as ‘n akademiese dissipline gevestig. Hy was ‘n aktivis-akademikus, vir wie Sosiologie nie net ‘n akademiese dissipline was nie, maar eintlik ‘n skatkis van hulpbronne om die armoede en sosiale verval van sy tyd teen te werk.

Die aktivisme van Verwoerd het hom ‘n veilige akademiese pos vir die gebrek aan sekuriteit van ‘n nuwe Afrikaner-koerant in Johannesburg (van alle plekke) laat verruil. “Die stryd om die siel van die Afrikaner sal in Johannesburg gewen of verloor word” was ‘n oproep wat hom ook besiel het.

Die volgende groot stap in sy loopbaan was om die kabinetspos vir Naturelle Sake te aanvaar. Dit lyk net na ‘n veilige stap, tot ‘n mens sy werk in dié departement in oënskou neem. Een ding waaroor Afrikaners en Engelssprekendes in Suid-Afrika saamgestem het, was hulle vrees vir swart getalle. Om ten spyte daarvan in beheer te bly, is algemeen geglo dat swartmense “op hulle plek” gehou moes word. Onderwys moes tot die noodsaaklike minimum beperk word en mag aan swartmense moes uitgeskakel word. Die tradisionele rol van stamhoofde moes erken word, maar slegs ter wille van doeltreffende beheer van die massas.

As junior kabinetslid lê Verwoerd ‘n ambisieuse program vir swart onderwys voor, wat vir die eerste keer massa-onderwys van primêre tot tersiêre vlak in die oog gehad het. Boonop kort hy nie die mag van swart tradisionele leiers in nie, hy brei dit uit. Hy stel in die vooruitsig dat ‘n post-koloniale regeringstelsel in Afrika ontwikkel moes word wat Westerse –  en Afrika-kenmerke in ‘n werklik inheems-moderne regeringstelsel sou insluit – ‘n formule waarna Afrika-denkers tot vandag toe soek.

Verwoerd se optrede as minister het teen die intuïsie van blanke Suid-Afrikaners ingedruis. Die VP opponeer die NP toe nie meer omdat “apartheid” onregverdig is nie, maar omdat tuislande die Kommunisme ‘n vastrapplek in Suid-Afrika sou gee. Die enigste party wat direkte swart verteenwoordiging in die Suid-Afrikaanse parlement bepleit het, die Liberale Party, het in 1958 al sy verteenwoordiging in die parlement verloor.

Strydig met hulle intuïsie, oortuig Verwoerd die kieserskorps en die NP-koukus dat massiewe besteding van geld en oordrag van mag aan swart belange, die enigste manier was om ‘n kop-aan-kop botsing tussen wit en swart in Suid-Afrika te voorkom. Hy verstom ‘n amptenaar as hy noem dat paswette tydelik moes wees, en dat blankes geen idee het hoeveel pyn dit veroorsaak nie. Nog ‘n amptenaar vra versigtig of dit wys is om universiteite vir swartmense te bou as daar nog sovee behoefte aan blanke kant is, waarop hy wys op die onskatbare waarde daarvan as in die toekoms met swart leiers oor die land se toekoms onderhandel sou moes word. Hy stuur die polisie by geleentheid stert-tussen-die-bene weg om ‘n “terroris” vry te laat, omdar hulle hom buite die Suid-Afrikaanse grondgebied in Swaziland gevang het.

Vir Verwoerd was die aansprake van liberale blankes en die swart elite nie polities gevaarlik nie. Hulle getalle en mag was té beperk. Die beskuldiging dat hy grond, mag en geld aan swart mense weggee, was polities gevaarlik –  dit kon ‘n blanke-politikus sy posisie oornag laat verloor.

Maar vir swart nasionaliste (ontstam en grootliks verwesters) kon Verwoerd se beleid die doodsklok lui. Wat sou met hulle steun gebeur as ‘n swart middelklas binne die tuislande geskep kon word, soos Verwoerd se uitdruklike beleid was? Wat sou gebeur as die swart “proletariaat” in die tuislande ekonomies geaktiveer kon word? Wat sou gebeur as mag vinniger aan tuislande oorgedra sou word as wat enigiemand verwag (soos tot in 1963 die geval was) en swart mense die geleenthede met albei hande aangryp? Wat sou gebeur as swart mense hulle etniese identiteit minstens gelyk met hulle ras-identiteit waardeer? Wat sou gebeur as Verwoerd se aanbod om met die internasionaal erkende Lesotho en Botswana saam te werk en selfs Suid-Afrikaanse grond aan hulle af te staan (soos hy in 1966 in vooruitsig gestel het) aanvaar word? Wat sou gebeur het as stedelike swart owerhede as leerskole vir onafhanklike state aangewend sou word, soos Verwoerd in die 1950s voorgestel het?

Wat sou gebeur het, is dat swart nasionalisme veld sou verloor het. Die mag sou nie meer noodwendig in hulle skote val nie. Hulle sou die status as die enigste geloofwaardige stem van swart Suid-Afrika verloor. Hulle bestaan as politieke mag was op die spel. Daarom was hulle stryd nie dié van ‘n moreel hoogstaande bevolkingsmassa teen ‘n ‘n regering sonder moraliteit nie, maar van ‘n bepaalde magsgroepering wat hom teen ‘n onvoorsiene veroop van sake moes verweer. Nie reg teen onreg nie, maar ‘n aanspraakmaker op mag, wie se vooruitsigte nie die ontknoping van ‘n direkte konfrontasie kon oorleef nie.

Verwoerd

Die aanbod wat Verwoerd aan swart mense gemaak het, het teen die aanbod van die ANC te staan gekom. Verwoerd het die model van Afrikaner-bemagtiging in die agterkop gehad en as’t ware gesê: “Bring julle vermoëns, hulpbronne en julle ywer, en die staat sal daarby voeg, en dan word julle bemagtig deur julle etniese trots met ekonomiese aktiwiteit te konkretiseer.”

Die ANC se aanbod was veel meer aanloklik: Dit het as’t ware gesê: “Sien julle alles rondom julle? Dit is julle s’n, maar julle gaan dit eers kry as die regering se planne skipbreuk ly. Boikot skole, moenie vir dienste betaal nie, moenie aan regeringstrukture deelneem nie, dan sal julle alles beërwe”

Natuurlik was die ANC se aanbod die aantreklikste. En ook het dit ‘n kultuur van wanbetaling en weiering tot samewerking geskep. Nadat die ANC in 1994 oorgeneem het, het hulle veral drie vrugte daarvan gepluk:

  • ‘n Swart minderheid is in staat gestel om die openbare bates van Suid-Afrika op ongekende skaal te privatiseer, terwyl die swart meerderheid se steeds verswakkende onderwys en afnemende werksgeleenthede moet verteer deur onvolhoubare maatskaplike besteding te ontvang.
  • Soos die NP van ouds en Verwoerd spesifiek, moes hulle sluk dat stabiliteit van ‘n regering kan vereis om werklikhede wat hom dwars in die krop steek, voort te sit. Daarom hou die huidige regering ook (soos Verwoerd) die uiters problematiese stelsel van trekarbeid in stand. Die winste word tans tussen mynbase (baie van hulle uit die swart elite) en arbeidsmakelaars (byna almal uit die swart elite) verdeel.
  • ‘n Kultuur van nie-betaling en nie-samewerking word moeilik omgekeer. Die ANC moet vandag ‘n land regeer waar skole liewer afgebrand as met gemeenskapsaksie opgebou word; waar krag liewer gesteel as wettig aangesluit word; waar mense gaan woon waar hulle ‘n gerieflike stuk grond sien, sonder om te vra waarvoor dit bedoel is.

Hierdie is een perspektief op die bepaalde stuk geskiedenis. Dit is beslis nie die enigste geldige perspektief nie – en as ek Wilhelm se verslag moet glo, is ek voor hom met die teenoorgestelde gekonfronteer, al is ek ses jaar jonger.

Die perspektiewe wat mekaar uitdaag, is nie reg teen verkeerd nie. Dit is een aanspraakmaker op mag teen ‘n ander een. Nou word alles wat in die 1948-1994 bedeling verkeerd was, as bedoelde, of minstens voorsienbare, gevolge aangebied. En as jy moreel voortreflik genoeg is, soos Wilhelm, sal jy vreesloos daarvoor verskoning vra en selfs aan simboliese aanrandings deelneem. Dit is dieselfde as om toenemende blanke armoede, plaasmoorde, ander misdaad en die ESKOM-krisis as bedoelde of voorsienbare gevolge van die ANC-regering aan te bied.

Ek verstaan waarom dit vir die huidige maghebbers noodsaaklik is om die vorige bedeling te demoniseer. Ek verstaan ook waarom Verwoerd gedemoniseer moet word, want hy het die naaste daaraan gekom om hulle projek te dwarsboom. Ek verstaan ook hoekom iemand uit my eie familie daaraan sal deelneem.

Ek verstaan dit, maar ek verwerp dit met my hele hart.

Wynand Boshoff

Oraniablog

Enjoyed this post? Share it!