WIT BOERE HET GEWERK EN BETAAL VIR GROND – VF+

Leier van die VF Plus, Dr. Pieter Groenewald het benadruk dat die regmatige grondeienaars in Suid-Afrika het gewerk en betaal vir die grond in hulle besit. Hulle gaan hoegenaamd nie omverskoning vra daaroor nie.

Groenewald het Dinsdag met die mosie vir die wysiging van artikel 25 van die Grondwet oor grondonteiening beklemtoon dat wanneer die ANC-regering praat oor grond en grondonteiening sonder vergoeding, verwys dit nie net na boere en landbougrond nie, dit raak elke eienaar van grond in Suid-Afrika, van ʼn plaas tot ʼn huis in ʼn stad of ʼn dorp.

Hy het ook bygevoeg dat dit noodsaaklik is dat alle grondeienaars moet tot die besef kom dat elkeen se eiendom ter sprake is wanneer van onteiening sonder vergoeding gepraat word. maar dat dit nie sonder meer sal kan gebeur in Suid-Afrika wat ʼn grondwetlike demokrasie is nie. Hy het gesê dit bly jammer dat wit mense altyd die sondebok gemaak word wanneer grondhervorming ter sprake is.

Groenewald het sy misnoë duidelik uitgespreek op die betrokke dag en het die volgende uitlating gemaak: “Oor grondbesit moet dit duidelik gemaak word dat die regmatige eienaars van grond en eiendom in Suid- Afrika diegene is wat daarvoor gewerk het, wat dit betaal het, en wat ʼn titelakte in die titelakte-kantoor het. Daardie mense is die regmatige eienaars, en dit is nie moontlik om sulke mense se eiendom net af te neem sonder vergoeding nie. “

Argieffoto (Pixabay)

Argieffoto (Pixabay)

Verder het Groenewald ook die grondwetlike demokrasie kwessie aangeraak en die volgende feite uitgelig: “Suid-Afrika is ʼn grondwetlike demokrasie. Daar moet dus ʼn grondwetlike proses plaasvind voordat iemand se eiendom onteien kan word. Die regering moet ophou om wit mense die skuld te gee vir alles wat fout is. In hierdie geval is dit die onbevoegdheid van die regering self wat nie vordering kan maak met die proses nie. Meer as 5% van alle grond in die land beland deurentyd op die opemark. Baie daarvan, veral plase, is weens die droogte selfs onder markwaarde beskikbaar.”  Hy het verder beklemtoon:

“Die regering is dus in ʼn baie goeie posisie waar hy miljoene hektaar grond onder markwaarde kan koop. Waarom doen hy dit nie? Waarom die retoriek dat wittes die proses verongeluk? Ek is bekommerd daaroor dat pres. Jacob Zuma gesê het grond sal sonder vergoeding afgeneem word.”

“Dit lyk ten minste of sy lede in die parlement van hom verskil. Dit moet benadruk word dat regmatige eienaars vir hul grond gewerk en daarvoor betaal het. En hulle gaan nie daaroor jammer sê nie,” het dr. Groenewald gesê.


 

Enjoyed this post? Share it!