Wits student glo aangehits om na haar dood te spring

Die hutsmerk #BraamSuicide was Sondag een van die mees bespreekte onderwerpe op Twitter nadat ’n student van die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) Saterdagaand uit die sesde verdieping van ’n gebou in Braamfontein, Johannesburg, na haar dood gespring uit.

’n Medestudent beweer ook op Facebook dat omstanders haar glo aangemoedig het om van die balkon af te spring.

Solani Sibanda het geskryf dat hy hulpeloos toegekyk het hoe die student voor sy oë gesterf het.

Hy sê selfs die polisielede wat op die toneel aangekom het om met die student te onderhandel en haar te help, het die situasie vererger.

Hy sê hy is geskok en gewalg deur sommige van die studente, die karwagte en ’n groep mans wat geskree het die student moet spring omdat sy volgens hulle net aandag soek.

“Hierdie hele saak is swak gehanteer. My hart is in stukke,” het hy gesê.

Kapt. Kay Makhubele, ’n polisiewoordvoerder, het aan News24 gesê die polisie dra nie kennis van die bewerings wat Sibanda maak oor die polisielede wat op die toneel was nie.

“Nee, ek weet nie daarvan nie. ’n Geregtelike ondersoek sal gedoen word. Die polisie ondersoek steeds die omstandighede van die dood,” het hy gesê.

Intussen het Wits se studenteraad (SR) ’n beroep op die universiteit gedoem om beter dienste aan studente wat nie op kampus tuisgaan nie, te bied.

Hierdie hele saak is swak gehanteer. My hart is in stukke.

Die SR het Sondag op Twitter gesê die universiteit en instellings in die algemeen moet hul ondersteuningstrukture hersien.

“Die onuitgesproke druk op studente by instellings neem toe en die huidige maatreëls wat in plek is, is ondoeltreffend. Baie van ons studente woon buite die kampus en loop die risiko van sulke voorvalle. Daar moet ’n hersiening wees van die ondersteuningsdienste wat deur studentebehuising wat nie op kampus is nie, gebied word,” het die SR gesê.

Die SR sê talle studente verloor hul lewe as gevolg van voorvalle wat met geestesgesondheid verband hou en alle belanghebbendes moet dringend na die probleem kyk.

“Geestesgesondheid moet die fokuspunt wees as deel van die universiteit se visie tot 2022. Hierdie kwessies is vir te lank opsy geskuif. Die SR sal alles in sy vermoë doen om berading te bied aan enige lid van die Wits-gemeenskap wat dit benodig.”

Sharona Patel, woordvoerder van die universiteit, kon nie Sondagaand vir kommentaar bereik word nie.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!