Wittes in SA is te arrogant, kla Vrystaatse ANC’s

‘Daar is ’n toename in arrogansie onder wit mense.” – Só lui die ANC se provinsiale werkkomitees in die Vrystaat en KwaZulu-Natal se verklaring wat Woensdag uitgereik is ná hul beraad.

Nouja. Mens moet eers tot tien tel voordat jy iets hieroor sê. Dit is in dieselfde paragraaf met die hofie “Oor geweld teen vroue, vroulike uitwissing (femicide) en rassisme”, waarin terloops niks gesê word oor Mduduzi Manana, adjunkminister van hoër onderwys, se aanval op twee vroue en die Grace Mugabe se aanval op die model Gabriella Engels nie.

Die ANC se komitees vra wél vir streng stappe teen alle vorme van geweld teen vroue (voordat hy wittes bykom). Dit is voor die komitees erg te velde trek teen die “teen-revolusionêre agenda” teen comrade Jacob Zuma, wat terloops al in die hof gestaan het vir verkragting (en vrygespreek is).

Is daar ’n toename onder wittes se arrogansie? Dis ’n gevaarlike debat – en een wat Ace Magashule en sy kamerade in die Vrystaat doelbewus skep om die aandag weg te kry van die land wat sink onder Zuma – terwyl ministers, Guptas, Mugabes en Omar al Basjirs oënskynlik wegkom met alles (en met die land).

Ek sou baie versigtig met só stelling wees as my president tot R100 miljard se skade aan die land aangerig het met staatskaping alleen – én duisende vroue en kinders elke jaar vermoor en verkrag word onder sy leierskap.

Die dorpe wat onder die ANC se arrogante leierskap in die Vrystaat in duie stort en verswelg onder riool en rommel, word natuurlik nie deur kameraad Ace genoem nie. Want dan moet hy ’n vinger na homself wys.

Ons verloor die oorlog teen geweld. Ons is gekaap deur Guptas, tsotsi’s en vrot politici. Ons is letterlik ’n gekaapte moordstaat gelei deur ’n gekaapte, arrogante president. Ons verloor elke dag vroue en kinders. Ons as land is skuldig aan aaklige geweld, femicide en rassisme.

In hierdie oorlog is ons nie swart, wit en bruin nie. Elke dag sien ons die grusaamste geweld in die howe deur alle mense. Maar as onverantwoordelike leiers begin om vir politieke opswepery vingers na net sekere groepe te wys, gaan ons net meer geweld sien.

Die gevaar vir politici is dat hoe meer ons in ’n wettelose staat verval, hoe meer gaan vigilante aanvalle teen die vrot politici uitvoer wat die land verkwansel het en mense laat honger ly. Die boodskap vir die ANC-konkelaars is duidelik: Lig julle vingers en begin werk. Volg Makhosi Khosa se voorbeeld en ontwikkel ’n gewete.

Ons land kort ware (vroulike) leiers soos Khosa en Helen Zille wat die oorlog teen vroue en kinders sal stop.

Nie net nóg ’n Zupta in Nkosazana Dlamini-Zuma nie. Want een, arrogante Zuma was een Zuma te veel.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!