Wurgdood: Meisie se pa geskok oor gewese vrou

“Ek moet nog die skok verwerk. Ek het haar glad nie verdink nie.”

So het Tewis Koekemoer, pa van die vermoorde Michelle (9), Maandag gesê nadat hy glo op Facebook gesien het sy gewese vrou, Soniya (34), is vir die wurgdood van hul dogter in Junie vanjaar in hegtenis geneem en dat sy Maandag vlugtig in die streekhof in Vanderbijlpark verskyn het.

Tewis het gesê hy het Maandagoggend in die noorde van Mosambiek geland waar hy by ’n myn werk toe hy op Facebook sien mense praat oor Soniya wat in die hof verskyn het op ’n aanklag van moord op Michelle.

Michelle is of in die nag van Donderdag, 9 Junie of in die vroeë oggendure die volgende dag met ’n tou verwurg.

Koekemoer is Vrydag in Sasolburg in hegtenis geneem nadat sy na verneem word die polisie gebel en ’n bekentenis afgelê het.

Sy het sedert haar dogter se moord by haar ma, Elize Viljoen, en stiefpa, Dawie Viljoen, in Sasolburg gewoon.

Koekemoer het Maandagoggend vlugtig in die streekhof in Vanderbijlpark verskyn op dié moordklag.

Viljoen sê hy en sy vrou is nog erg geskok oor hul dogter se inhegtenisneming en haar “sogenaamde bekentenis”.

EK KAN DIT NIE GLO NIE. DIT IS BAIE SWAAR OM TE VERWERK. ONS WEET NIE WAT HAAR DAARTOE GEDRYF HET NIE.

“Ek kan dit nie glo nie. Dit is baie swaar om te verwerk. Ons weet nie wat haar daartoe gedryf het nie. Ek het help grootmaak aan Soniya,” het Viljoen gesê.

Francois de Kock, Koekemoer se regsverteenwoordiger, het gesê sy het aangedui sy gaan skuld beken. “Sy wil die saak so vinnig as moontlik agter die rug kry,” het De Kock gesê.

Koekemoer het senuweeagtig en gespanne gelyk toe sy in die beskuldigdebank gesit het. Sy het kort-kort trane met haar linkerhand – wat vol tatoeëermerke is – afgevee.

Sy het gebewe asof sy baie koud kry en heeltyd afgekyk en haar hande aanhoudend gewring.

Koekemoer het aanvanklik aan die polisie gesê ’n inbreker het deur ’n venster in hul woonstel gekom en haar dogtertjie verwurg. Sy het glo die Vrydagoggend self ook met ’n tou om die nek wakker geword.

Streeklanddros Robert Button het aan Koekemoer gesê sy bly tot Donderdag in hegtenis wanneer haar moordsaak in die streekhof voorkom.

Tewis Koekemoer het gesê hy sou baie graag die saak Donderdag wou bywoon, maar werksverpligtinge sal dit nie toelaat nie.

Hy en Soniya is verlede jaar in Maart geskei. Hy meen die feit dat hy byna nooit by die huis was nie omdat hy oral oor Afrika gewerk het, het moontlik tot hul egskeiding bygedra. Hy het sedertdien baie min kontak met sy gewese vrou gehad.

Bron: Netwerk24


 

Enjoyed this post? Share it!