Wyle dr. Pieter van Eeden, oud-kritikus van staalreus wreed vermoor

‘n Internasionaal bekende omgewingspesialis wat ook diep spore in die Vaaldriehoek getrap het, is in sy huis in Van Riebeeck Park, Kemptonpark, vermoor.

Dr. Pieter van Eeden (54), wat in die vroeë jare 2000 aan Iscor in Vanderbijlpark verbonde was, se bebloede liggaam is Saterdag, 28 Oktober, in ‘n klerekas in sy huis aangetref.

‘n Goeie vriend van dr. Van Eeden, André Grové, het op die grusame toneel afgekom. Dit was nadat hy bekommerd begin raak en ondersoek ingestel het omdat dr. Van Eeden nie die Vrydagaand ‘n afspraak om ‘n kerkgeleentheid by te woon, nagekom het nie. Toe dr. Van Eeden die volgende oggend steeds nie sy WhatsApp-boodskappe of selfoon beantwoord het nie, het Grové besluit om self na sy huis te gaan en vas te stel wat skort.

Hoewel die gang van dr. Van Eeden se huis vol bloed was, sê Grové, was daar geen teken van sy vriend nie. By nadere ondersoek is dr. Van Eeden se liggaam, weggesteek in ‘n kas, in ‘n plas bloed ontdek. ‘n Byl en patroondoppie is op die toneel gevind. Daar word vermoed dat hy reeds die Dinsdag of Woensdag vermoor is.

Niemand is nog in verband met sy dood in hegtenis geneem nie. ‘n Vriendin van dr. Van Eeden, me. Nicole Barlow, bied ‘n beloning van R10 000 aan vir inligting wat tot die inhegtenisname van die moordenaar sal lei.

Baie oud-Iscoriane sal dr. Van Eeden daarvoor onthou dat hy die destydse Iscor, terwyl hy as besoedelingstegnoloog in die staalreus se diens was, openlik uitgedaag het oor die dekades-lange besoedeling van die omgewing.
Hy het Iscor onder meer daarvan beskuldig dat die gebied se grondwater rondom die fabriek 40 jaar lank erg besoedel is, dat Iscor bewus was daarvan en niks probeer doen het om dit te verhoed nie.

Nadat dr. Van Eeden sekere vertroulike dokumente, wat glo “verdoemende getuienis” teen Iscor bevat het, aan die regsverteenwoordigers van beswaarde inwoners laat uitlek het, is hy in 2001 geskors.

Sy skorsing is egter later daardie jaar sonder enige verduideliking deur Iscor opgehef. Die staalreus se destydse woordvoerder, Phaldie Kalam, het egter ontken dat enige van dr. Van Eeden se beskuldigings oor besoedeling waar was.

Dr. Van Eeden het later by EcoMonitor, wat betrokke is by omgewingsimpakstudies, aangesluit. Hy het ook verskeie wetenskaplike publikasies die lig laat sien en in drie waternavorsingskommissies gedien.
Hy het sy vrye tyd graag in die natuur deurgebring en was ook ‘n ywerige voëlkyker met ‘n wye kennis van inheemse voëlspesies


Enjoyed this post? Share it!