ZOELOE-KONING GOODWILL ZWELITHINI SPRING ALWEER BONT

As daar een man in Suid Afrika is wat ‘n professionele bontspringer is, is dit koning Goodwill Zwelithini van die Zoeloes. Dit is nou die een ou wat enigiets sal se of doen solank hy ‘n geldjie in sy sak kan druk.

Die afgelope naweek het Zwelithini weer die ANC aangeval en gedreig dat die Grondwet verander moet word want dit toon geen respek teenoor die Zoeloes se kultuur nie. Dis ‘n ou laai van die 69-jarige “monarg” – dreig met afskeiding totdat daar toegegee word aan sy geldeise. Hy het steen en been gekla dat hy nie sy koninklike pligte (?) kan nakom met net R50m per jaar nie.

Klein Julius Malema het natuurlik dadelik sy agterent afgeskrik en vyf beeste namens die EFF aan Zwelethini geskenk.

Nee, die “koning” het meer nodig. Jy moet darem onthou, die koning reken Sondag dat hy ‘n belangrike tussenganger is tussen sy onderdane en God en dat hy ‘n kerk moet bou. Sy geboorte, reken hy, was geprofeteer en hy kan met handoplegging siekes genees. “Partykeer as ek praat, praat God deur my”. Dis onbekend of die beeste Aberdeen Angusse was. Die koning moes iedergeval ‘n sagte woordjie in klein Julius se ore gefluister het, want Saterdag het klein Julius wild te velde getrek teen die Indiers in Suid Afrika.

Tydens Kodesa in 1993 was Zwelithini ‘n ondersteuner van Buthelezi en Inkatha (IVP) se selfbeskikkingsgedagte totdat hy ‘n privaatbesoekie ontvang het van Mandela en ‘n makgemaakte Zoeloe, ene Jacob Zuma. Met ‘n geskenkie het Zwelithini binne 24 uur gat-omgegooi en Buthelezi en die IVP hoog en droog eenkant gelos. Zwelithini het breed geglimlag oor sy Ngonyama Trust na die episodetjie.

Sondag, tydens sy verjaardagviering, het Zwelithini gewys op die groot deurbraak wat hy persoonlik veroorsaak het in die stryd teen VIGS deurdat hy sy onderdane gewys het op die belangrikheid van manlike besnydenis.

In 2015, so rondom tyd vir die koninklike begroting, het Zwelithini die MRK en ANC in ‘n hoek gedruk met sy uitsprake dat “Apartheid het die sterkste weermag en ekonomie in Suid Afrika gehad. Die Afrikaners is baie lief vir my”. In Maart vanjaar, voor die geagte Gigaba begin geld uitdeel het, het Zwelethini gal gebraak oor “plaasmoorde” en die ANC beskuldig dat hulle niks daaraan doen nie.

Dit is ook die tyd toe hy gereken het: “Laat ons die kopluise dooddruk. Laat ons die bosluise afhaal en buite in die son los. Buitelanders moet hulle goed pak en gaan”.

Laasweek het hy egter weer galgebraak teen wittes wat beswaar aangeteken het nadat hy, sy familie en lyfwagte met flitsende blou ligte ‘n restaurant, die Vasco da Gama in Kaapstad, oorgeneem het. Toe het hy homself verontskuldig met: “Ek is nie net die koning van die Zoeloes nie; ek is die koning van al die mense wat in Natal bly”.

Zwelethini, sy ses vroue (elk met ‘n eie paleis) en 28 kinders lewe in weelde. Die troue met sy sesde vrou het belastingbetalers ‘n skamele halfmiljoen gekos en sy kinders is ook uitgedos in militere uniforms ter waarde van R300 000 vir die opening van die Huis van Tradisionele Leiers. Elke “koningin” ry ook ‘n luukse Mercedes.

In Desember 2009 het ‘n klompie Diereregte-aktiviste die “koning” voor die hof gedaag oor die tradisionele slagting van ‘n bul wat met kaal hande moet doodgemaak word tydens die Ukwheshama-fees, en toe het Zwelithini weer die selfbeskikkings-klousules aangehaal oor eie kultuur en tradisies…en nogal die saak gewen.

Inderdaad ‘n kalant wat sy tiervel span na gelang van hoe die wind waai…

Deur: Hannes Engelbrecht/Front Nasionaal SA Blad


Enjoyed this post? Share it!