Zuma dink net aan homself, hy wil SA net gebruik vir sy eie gewin.

Jacob Zuma se aanwysing van Malusi Gigaba as nuwe minister van finansies is deel van die voortgesette uitbreiding van staatskaping deur die Guptas en terselfdertyd die versterking van Zuma se faksie binne die ANC, sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê Zuma wys hiermee dat hy bereid is om Suid-Afrika op te offer in die belang van homself en sy vriende. Suid-Afrika is nou op die glybaan van net nog ʼn korrupte Afrika-staat soos Zimbabwe. Wat Gigaba aanbetref sê dr. Groenewald hy het geen bewese finansiële agtergrond of kwalifikasie nie en boesem daarom nie vertroue in as minister van finansies nie.

Zuma se optrede is nadelig vir Suid-Afrika en sy inwoners wat betref ekonomiese groei. Dit sal bloot verdere armoede, werkloosheid en die verryking van ʼn swart elite veroorsaak.

Die ministers wat gesê het hulle gaan bedank sou Pravin Gordhan verwyder word, sal nou moet bewys dat hulle ernstig was en moet die eerbare ding doen deur daadwerklik te bedank. So ʼn stap kan ʼn reddingsboei wees vir die mense van Suid-Afrika aangesien dit kan bydra om van Zuma ontslae te raak.

Die aanwysing van Fikile Mbalula as minister van polisie bewys dat Zuma nie ernstig is oor die bekamping van misdaad nie. Mbalula is bekend as ʼn grapjas wat omstrede uitlatings maak en die polisie is allermins ʼn plek vir ligsinnigheid en omstrede figure.

Zuma wys duidelik dat hy nie skroom om sy lojaliste in poste te plaas selfs al is hulle onbevoeg daarvoor nie. Met die skommeling van die kabinet is die handskoene af in die geveg binne die ANC. Zuma is in die proses besig is om die ANC te vernietig en die pilare op homself om te trek.

Die enigste ligpunt is dat die ANC so verdeel en vernietig word dat hy in 2019 uitgestem kan word as regerende party. Kiesers van Suid-Afrika moet nou hul stem dik maak en sorg dat Suid-Afrika in 2019 ʼn nuwe regering deur koalisies vorm wat in die beste belang van Suid-Afrika en sy mense sal optree.


Enjoyed this post? Share it!