Zuma dreig om as ANC-leier aan te bly ná die party se Desember-konferensie

Pres. Jacob Zuma dreig om ná die party se Desember-konferensie as ANC-leier aan te bly en die nasionale vervolgingsgesag (NVG) oorweeg ’n strategie om te verseker dat dit nog jare sal duur voordat hy aangekla word.

Aan dié twee fronte – binne die ANC en in die strafregstelsel – het die buitelyne van Zuma se toekomsplanne die afgelope week gestalte gekry.

Zuma se advokaat, Kemp J. Kemp, het Donderdag in die appèlhof toegegee dat die besluit van adv. Mokotedi Mpshe, voormalige waarnemende hoof van openbare vervolging, om die 783 korrupsieaanklagte teen Zuma te laat vaar, irrasioneel was en tersyde gestel moet word.

Kemp het aan die volbank in Bloemfontein gesê Zuma wil nuwe vertoë rig as die NVG weer sou besluit om hom aan te kla.

Dit sal die finale besluit laat in die hande van die nasionale vervolgingshoof, adv. Shaun Abrahams.

Bronne het aan City Press gesê dat Abrahams ná Kemp se toegewing informeel met verskeie senior kollegas vergader het. Hulle het saam ’n plan beraam, wat insluit dat hulle Zuma se vertoë dan gunstig sal oorweeg.

Die verwagting is dat die DA en dalk ook burgerlike organisasies deur litigasie sal probeer ingryp om te keer dat die aanklagte teruggetrek word.

Daar was in 2009 ’n dossier gereed. Dit sal irrasioneel wees om nie die aanklagte in te stel nie.

Abrahams beplan glo om Zuma se aansoek toe te staan om sy vervolging permanent te staak.

Dit sal Zuma se uitgerekte oorlog teen die sogenaamde spioenasiebande verder verleng.

Die NVG wag nou amptelik op die appèlhofuitspraak, wat voorbehou is.

“Dit gaan ’n uitgerekte regstryd wees. Hulle verwag dat die DA en die burgerlike organisasies sal aanhou baklei,” sê een van die bronne.

Luvuyo Mfaku, NVG-woordvoerder, kon nie gister vir Abrahams in die hande kry om kommentaar te lewer op die beweerde plan nie. Hy sê egter dit is “hoogs onmoontlik”.

Die grondwetkenner Phephelaphi Dube sê ná Kemp se toegewing is dit waarskynlik dat die appèlhof die aansoek van die hand sal wys. Sy reken ook as Zuma hom tot die konstitusionele hof sou wend, soos hy sou kon, is sy kanse op sukses daar skraal.

Dube sê Abrahams sal moet besluit of hy voortgaan met die vervolging, met inagneming daarvan dat die besluit rasioneel moet wees. “Daar was in 2009 ’n volledige dossier gereed. Dit sal irrasioneel wees om nie die aanklagte weer in te stel nie.”

As die NVG weier om te vervolg, sal hy ’n sertifikaat van weiering om te vervolg moet uitreik. Dan kan private persone met ’n belang by die saak ’n private vervolging teen Zuma instel.

Rapport kan ook vandag onthul dat Zuma die ANC se topleiers twee weke gelede gedreig het dat hy hom weer in Desember as leier verkiesbaar sal stel omdat dit nie vir hom lyk “asof julle eenheid gaan herstel nie”.

Zuma het die uitlatings gemaak kort voordat hy en die ander ANC-leiers met SAKP-leiers sou vergader oor dié party se planne om die ANC-alliansie by die stembus te takel. Hy het die vergadering toe gekanselleer.

“Hy het vloermoere gegooi en gesê die SAKP wil hom nie meer as president hê nie en dat hy as president van die ANC nie sal toelaat dat die ANC met die SAKP vergader nie,” het een van drie bronne oor die vergadering aan Rapport gesê.

“As julle met die SAKP wil vergader, kan julle dit enige tyd van Januarie af doen wanneer julle ’n nuwe president gekies het. Dis nou tensy ek op die konferensie besluit om myself beskikbaar te stel om herkies te word. Ek sal dalk gedwing word om myself beskikbaar te stel om herkies te word sodat ek die organisasie kan verenig,” het Zuma glo gesê.

Zuma eis ook dat ­Baleka Mbete, ANC-voorsitter, as speaker verwyder word omdat sy op 8 Augustus ’n geheime stemming toegelaat het in die mosie van wantroue in die parlement.

In die ANC word egter gesê Zuma se kanse om herkies te word, is skraal, en hy weet dit. Hy het al telkens gesê hy is nie vir ’n derde termyn as ANC-president beskikbaar nie.

Daar is nietemin kommer dat die twis rondom die aanwys van afgevaardigdes daarop kan uitloop dat die Desember-konferensie uitgestel word.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal, het Vrydag vergader met die Zuma-gesinde provinsiale leiers van KwaZulu-Natal (KZN), onder wie Sihle Zikalala, provinsiale voorsitter, wie se verkiesing in 2015 Dinsdag deur die hooggeregshof in Pietermaritzburg nietig verklaar is. Die provinsiale leiers wil teen die uitspraak appelleer, maar Mantashe het benadruk dit is die nasionale uitvoerende komitee se besluit. “Die NUK vergader Vrydag daaroor,” sê Mantashe.

Die ANC-topleiers het strukture in twee streke in KZN ontbind en ’n taakspan aangewys om die werk van die streekstrukture te doen. Takke wat hulle skaar by Senzo Mchunu, voormalige KZN-premier en ’n bondgenoot van adj.pres. Cyril Ramaphosa, het gewaarsku dat ’n appèl die geloofwaardigheid van KZN, die grootste afvaardiging in Desember, in die gedrang kan bring.

As die ANC egter geen appèl toelaat nie, sal die bestaande provinsiale leiers hul ampte moet neerlê en ’n nuwe provinsiale leiersverkiesing gehou moet word.

Mchunu, wat as die ANC-voorsitter in KZN ontsetel is ná die onreëlmatige 2015-konferensie, wil egter nie sy amp terughê nie.

Hy is ’n gunsteling om Mantashe op te volg as sekretaris-generaal mits Ramaphosa president word.

Die Oos-Kaapse ANC, wat einde vandeesmaand ’n provinsiale konferensie hou, is ook in ’n hofsaak gewikkel waarin die afgevaardigdes van die O.R. Tambo-streek in Mthatha betwis word.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!