Zuma en DA in appèlhof vir nog ’n ronde in die sogenaamde spioenasiebande-saak

Pres. Jacob Zuma en die DA is Donderdag terug in die hof vir nog ’n ronde in die sogenaamde spioenasiebande-saak.

Zuma het die appèlhof in Bloemfontein genader met ’n aansoek om verlof tot appel oor die hooggeregshof in Pretoria se beslissing oor die opnames.

’n Volbank regters het in 2016 die nasionale vervolgingsgesag (NVG) se besluit omgekeer om die aanklagte van bedrog teen Zuma te laat vaar. Die president word van bedrog, afpersing en geldwassery beskuldig.

Die NVG en Zuma het hulle tot die appèlhof gewend, nadat die hooggeregshof hul aansoek om verlof tot appel van die hand gewys het.

In April 2009 het ’n besluit deur Mokotedi Mpshe, destydse hoof van die NVG, bepaal dat transkripsies van telefoongesprekke tussen Leonard McCarthy, destydse hoof van die Skerpioene, en Bulelani Ngcuka, voormalige NVG-hoof, bewys het daar was politieke inmenging in die besluit om Zuma aan te kla.

Zuma sê in sy beantwoordende beëdigde verklaring, waarin hy aansoek doen om verlof tot appel, hy glo daar is ’n redelike kans dat die appèlhof tot ’n ander beslissing as die hooggeregshof sal kom aangaande die “feitlike en wetlike aspekte” van die saak.

Zuma voer aan die DA het nie die basis van sy aansoek reg verstaan nie, en het bygevoeg daar is teenstrydige interpretasies oor wat die wet sê oor die magte van die nasionale direkteur van openbare vervolgings (NDOV).

Die president se argument is gegrond op die kwessie van irrasionaliteit. Hy hou vol dat Mpshe se besluit rasioneel was.

“Hoewel mnr. Mpshe die meriete van die saak teen mnr. Zuma oorweeg het, is sy verklaring duidelik dat hy die beginsel van openbare belang in sy besluit om nie voort te gaan nie, belangriker geag het as die meriete van die saak.

“Dit was heeltemal rasioneel,” lui die hofdokumente.

Albei partye het die NVG se diskresionêre magte verdedig en meen die DA sit die pot mis.

Hulle sê die DA se argument dat die hof die besluit kan omkeer maar dat die NDOV nie kan nie, is in beginsel verkeerd en beledigend teenoor die magte van die NDOV en die NVG in die algemeen in sy besluit om voort te gaan met Zuma se vervolging of nie.

Die konstitusionele hof het in September 2016 die NVG se aansoek om teen die hooggeregshof se beslissing te appelleer van die hand gewys weens die hangende saak in die appèlhof.

Die aanklagte teen Zuma is in 2009 laat vaar, kort voordat hy president geword het, en die DA is sedertdien vasbeslote om die aanklagte teen hom weer ingestel te kry.

Die saak is vir Donderdag en Vrydag op die hofrol.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!