Zuma gryp in oor klasgelde

In wat as ‘n ongewone stap gesien word, het die ANC-Staatshoof, Jacob Zuma, persoonlik ingegryp en sy verantwoordelike ministers opdrag gegee om toe te sien dat daar geen klasgeldverhoging vir universiteite is in 2017 nie.

Dit terwyl daar tans nog ‘n ondersoek aan die gang is oor die verhoging van klasgelde, wat nog nie afgehandel is nie. Zuma se opdrag aan die Ministers van hoër onderwys en van finansies was eenvoudig dat hulle die geld moet kry om ‘n 0% verhoging te akkommodeer.

Die Minister van Hoër Onderwys wil ‘n ses persent verhoging hê, wat in lyn is met die amptelike inflasiekoers. Die tesourie is reeds onder druk en sal nie self kan instaan vir die bykomende koste om universiteite aan die gang te hou nie.

Waarskynlik gaan daar weer eens ‘n beroep gedoen word op die private sektor om in te spring en die gelde te voorsien. Die ANC-bewind maak kort-kort van die private sektor gebruik om sy kastaiings  uit die vuur te haal. In ruil daarvoor kom egter geen belastingtoegewings nie, maar wil die staat steeds meer politieke houvas kry terwyl hy nie self sy finansiële verantwoordelikhede vir sy sosialistiese beleid wil nakom nie.

Zuma het hom hier geskaar aan die kant van revolusionêre studente wat bereid is om universiteite af te brand en tot stilstand te bring onder die sogenaamde “fees must fall”-veldtog.

Bron: Vryburger


 

Enjoyed this post? Share it!