Zuma jr. ontvang massiewe meevaller met verkoop van die Gupta-familie se maatskappy Tegeta Exploration and Resources

Die verkoop van die Gupta-familie se maatskappy Tegeta Exploration and Resources kan pres. Jacob Zuma se seun Duduzane moontlik R846 miljoen in die sak bring.

Moneyweb berig dat dié skatting gegrond is op die aanname dat Duduzane se Mabengela Investments steeds ‘n 28,5%-belang in Tegeta het.

Die aankondiging oor die transaksie het Woensdag groot rimpelings veroorsaak met kommer wat in die parlement uitgespreek is dat die Guptas hul bates vervreem sodat hulle landuit kan gaan.

Pravin Gordhan, voormalige minister van finansies, het die parlement versoek om dringend dié bateverkope te ondersoek as deel van hul staatskapingsondersoek.

Hoewel Gordhan Woensdag geen name genoem het nie, het hy duidelik na die Guptas verwys wat Maandag aangekondig het dat hulle hul ANN7-TV-kanaal en The New Age-koerant verkoop het en toe Woensdag dat hulle Tegeta verkoop het.

Tegeta vorm deel van die vorige openbare beskermer, adv. Thuli Madonsela se State of Capture -verslag, wat onreëlmatighede blootgelê het in die groep se transaksies met Eskom. Brian Molefe het as gevolg van dié verslag as uitvoerende hoof van Eskom bedank.

“Ons moet ons deur dringendheid laat aanvuur deur die opeenvolgende verkoop binne 48 uur van Suid-Afrika se bates,” het Gordhan gesê.

Hy wil ook hê die komitee moet dringend ’n getuielys opstel aan wie briewe gestuur moet word. As getuies hulle teësit, moet die parlement hulle dagvaar en moet wetstoepassersagentskappe se hulp ingeroep word, indien nodig.

Zukiswa Ranto, waarnemende voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare ondernemings, het Dinsdag gesê hulle het formeel met Cedric Frolic, voorsitter van komitees, oorsig en inligtings- en kommunikasietegnologie (IKT), en Masibulele Xaso, sekretaris van die Nasionale Vergadering, vergader omdat hulle meer geld nodig het om hul werk te kan doen. Hulle sou Dinsdag terugvoer kry maar Frolick was glo te vinde daarvoor en vir die manier waarop die komitee die ondersoek wil doen.

Parlementslede was woedend omdat die gebrek aan hulpbronne hul staatskapingsondersoek na Transnet, Eskom en Denel in die wiele ry en hulle nog nie kon begin het nie.

Hulle het ook die kwessie opgehaal van die komitee se keuse dat adv. Ntuthuzelo Vanara die getuienisleier moet wees weens die ervaring waaroor hy beskik as getueinisleier van die ad hoc-komitee oor die SAUK se probleme.

Ranto sê die komitee het kennis geneem van die haastige vervreemding van die Guptas se Suid-Afrikaanse bates en sal regsadvies daaroor inwin, veral om vas te stel of dit gaan inwerk op die komitee se ondersoek en watter wetlike ingrypings die komitee kan maak.

Natasha Mazzone van die DA het saamgestem dat die verkoop van die bates inderdaad kommerwekkend is en het vir ’n dringende vergadering met die departement van openbare ondernemings gevra.

Gordhan het ook gesê dat Oakbay hom voorgehou het as ’n grootskaalse swart ekonomiese bemagtigings-rolspeler, maar nou verkoop die Guptas die myn aan ’n buitelandse entiteit. “Waarom het hulle nie die myn aan ’n Suid-Afrikaanse sake-entiteit in swart besit verkoop nie?” wou Gordhan weet.

Mazzone het ook daarop gewys dat Suid-Afrika nie ’n uitleweringsooreenkoms het met die Verenigde Arabiese Emirate nie (VAE), wat beteken dat sou die Guptas Suid-Afrika verlaat “dit moeilik sal wees om hulle terug te kry”.

“Omar al-Basjir het Suid-Afrika verlaat. Grace Mugabe het Suid-Afrika verlaat. En nou is daar ’n kans dat die Guptas die land vir die VAE kan verlaat,” sê Mazzone.

Steve Swart van die ACDP sê daar is geen rede waarom Suid-Afrikaanse wetstoepassingsagentskappe nie dadelik kan optree en die bates van die Gupta-familie bevries nie.

* Charles King SA, die Switserse maatskappy wat Tegeta Explo­ration and Resources by Oakbay Investments gekoop het, bestaan wel, selfs al wou Twitterati dit Woensdag hê dat die maatskappy nie bestaan nie.

Luidens registrasiedokumente wat van die Switserse handels­register Zefix verkry is, is Charles King op 17 Februarie 2011 as ‘n maatskappy geregistreer.

Die SA agter die maatskappy se naam is die Switserse ekwivalent van Edms. Bpk. en verwys nié na Suid-Afrika nie.


Enjoyed this post? Share it!