Zuma lewer rede net vir ANC

Die sogenaamde staatsrede van ANC-leier Jacob Zuma, was inderwaarheid meer ‘n ANC-rede nadat die meeste politieke partye die parlement verlaat het en feitlik net die ANC agtergebly het om applous te gee vir hulle leier.

Die parlement is weer eens erg ontwrig, in wat as ‘n “chaotiese laagtepunt” beskryf is deur VF+ se leier, dr. Pieter Groenewald. Hy sê weens die optrede van die EFF en van sy ondersteuners in die openbare galery het die VF Plus ʼn punt bereik waar hy nie anders kon nie as om uit te stap nie.

‘n Tipe van traangas is ook op die galery tussen die publiek ingegooi deur ondersteuners van die EFF. Die veiligheid van die gaste is daardeur bedreig. Hierdie optrede in die parlement bevestig die feit dat Suid-Afrika ontaard in ‘n piesangrepubliek.

In die raadsaal kon die voorsittende beamptes nie die berekende chaos beheer wat vir meer as ʼn uur ononderbroke voortgeduur het nie. Dit het uiteindelik tot chaos en vandalisme gelei waar stoele gebreek is en waterbottels en harde hoede rondgegooi is.

As sulke wangedrag in die hoogste raadsaal van die land plaasvind wat as voorbeeld vir alle Suid-Afrikaners moet dien, hoe kan daar van die publiek verwag word om die wette en die reëls van die land te gehoorsaam?

Die ANC en EFF moet volle verantwoordelikheid aanvaar vir hierdie vandalistiese optrede in die parlement.

Die VF Plus kan hom nie assosieer met sulke omstandighede binne die parlement nie. Dit is ʼn verleentheid, en die VF Plus het daarom die raadsaal verlaat, sê dr. Groenewald.

Nadat die EFF verwyder is, het hulle munisipale koalisievennote, die DA, ook die saal verlaat.

Toe Zuma na meer as ‘n uur later aan die woord gekom het, was sy toespraak onbesielend en meer ‘n geweeklaag omdat swartes nie die ekonomie beheer of grond besit nie.


 

Enjoyed this post? Share it!