Zuma moet antwoord oor haatspraak

Die Menseregtekommissie (MRK) het president Jacob Zuma verwittig dat hy teen 4 Julie (let wel: nog vanjaar) moet antwoord op ‘n klag van haatspraak oor uitlatings wat hy oor Jan van Riebeeck gemaak het.

Die klag van die VF Plus spruit uit sy opmerkings dat die land se probleme begin het met die aankoms van Jan van Riebeeck en dat talle stryde, oorloë, sterftes, die gryp van grond en die ontneming van inheemse mense se politieke en ekonomiese mag, daarop gevolg het.

Die MRK het in ‘n skrywe gemeld dat ‘n soortgelyke klag saam met dié van die VF Plus gevoeg is.

Die party het reeds in Januarie verlede jaar sy klag ingedien. In April vanjaar is dit opgevolg toe adv. Anton Alberts in ‘n brief aan die MRK gevra het waarom die kommissie klaarblyklik onwillig is om Zuma te ondersoek aangesien geen van die verskeie klagtes teen hom in die laaste twee jaar afgehandel is nie.

Daar is voorts ingevolge die Wet op die Bevordering van Toegang tot Inligting (Paia) inligting van die MRK aangevra omtrent die klagtes en ondersoeke teen die president.

Adv. Alberts sê benewens die antwoorde wat die MRK ingevolge die Paia-wet aan die party moet verskaf, moet die kommissie ook antwoord waarom toegelaat is dat die president ‘n duidelike sperdatum van 8 Mei verlede jaar verontagsaam, sonder dat teen hom opgetree is.

Bron – Vryburger


Enjoyed this post? Share it!