Zuma ‘n morele kwessie

Die onmoontlike situasie waarin pres. Jacob Zuma die land gedompel het, kan moontlik dartoe lei dat kollektiewe leierskap die belangrikste besluite in die regering sal oorneem.

Gerugte wil dit hê dat daar saamgestem word dat Zuma nie vertrou kan word om die land tot die volgende ANC-nasionale kongres in 2017 te lei nie. Gevolglik word die moontlikheid bespreek dat die Integriteitskommissie kan ingryp.

Die Integriteitskommissie, wat in 2013 gestig is as ’n raadgewende komitee om probleme soos die koop van stemme en ander korrupsie te bekamp, het in Oktober vanjaar ingrypende magte gekry om besluite te neem en selfs tugstappe te doen.

Hoewel Zuma ‘n verleentheid is, is daar ‘n onwilligheid om hom te herroep soos oudpres. Thabo Mbeki herroep is.

Adj.pres. Cyril Ramaphosa, wat saam met Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, ’n leidende rol gespeel het daarin dat Zuma Sondagaand laat vir Des van Rooyen as Minister van Finansies met Pravin Gordhan vervang het, het saam met die res van die ANC se topleiers laer om Zuma getrek om hom te beskerm.

Hy het gesê dat berigte dat hy gedreig het om te bedank of dat enigiemand anders wou bedank, is snert.

Mantashe het die aanvoorwerk gedoen vir die uitbreiding van die kommissie se magte. Ná al die drama is Gordhan nou feitlik onaantasbaar in sy tweede termyn as Minister van Finansies.- Die Vryburger

Enjoyed this post? Share it!