Zuma se kolossale neef verdwyn soos ’n groot speld

Die kolossale Khulubuse Zuma het klaarblyklik soos ’n speld in ’n hooimied verdwyn, maar Rapport kon vasstel hy sit in die Oos-Kaap.

Die hele wêreld soek na hom om ’n sekwestrasieaansoek aan hom te bestel te midde van berigte dat hy na Dubai wil uitwyk.

Khulubuse Zuma. Hy het die laaste paar weke kat en muis gespeel met geregsbodes wat ’n sekwestrasieaansoek aan hom moet bestel.

Die likwidateurs van die Pamodzi-myne wil hom kaal uittrek omdat hy nie sy terugbetalingsooreenkoms van R500 000 per maand eerbiedig het nie. Hulle wil hê hy moet nou baie meer betaal as die R12 miljoen wat hy nog geskuld het toe die betalings in Julie opgedroog het.

By Zuma se huis in Umhlanga was daar geen teken van hom toe die balju die aansoek wou beteken het nie. Volgens John Walker, regsverteenwoordiger van die Pamodzi-myne se likwidateurs, het ’n veiligheidswag vir die balju gesê Zuma woon lank reeds nie meer daar nie.

’n Vurige Zuma het egter die afgelope week teruggekap ná die berigte dat hy sy lyf skaars hou. Hy het Gideon du Plessis, hoofsekretaris van Solidariteit, gebel om te sê dié vakbond is verkeerd as hulle dink hy is oorsee.

Zuma het vir Du Plessis gesê hy is nog heeltyd by sy amptelike private woning.

Zuma het verder vir Du Plessis gesê hy is heeltemal bewus daarvan dat sekwestrasie hom in die gesig staar, maar kan dit nie eens bekostig om regsverteenwoordiging te kry nie.

“Volgens Zuma word hy geteiken omdat hy ’n ‘Zuma’ is en weens die politieke agenda is hy ’n slagoffer veral weens sy verbintenis met sy oom, pres. Jacob Zuma,” het Du Plessis gesê.

Rapport het Zuma se bewegings met die hulp van onberispelike bronne nagespeur en kon vasstel dat hy inderdaad die laaste paar weke in Suid-Afrika was.

Die laaste keer wat hy die land verlaat het, was op ’n daguitstappie na Swaziland op 19 September.

Uit sy reise die laaste paar maande blyk dit dat Zuma inderdaad nie onlangs Dubai toe was nie.

Uit sy reise die laaste paar maande blyk dit dat Zuma inderdaad nie onlangs Dubai toe was nie. Sedert April vanjaar was hy egter drie keer soontoe en hy het elke keer tussen ’n week en drie weke daar vertoef.

Gister was Zuma ’n klipgooi van Graaff-Reinet af.

Dit maak nie saak as Zuma kat en muis met die balju speel nie, want die sekwestrasieaansoek is intussen uitgereik in die hooggeregshof in Durban, sê Walker.

Insolvensie-wetgewing maak voorsiening daarvoor dat die hofsaak kan voortgaan selfs wanneer die skuldenaar nie dadelik gevind kan word nie.

Volgens Walker is dit egter nie net Zuma se turf wat kan sit oor sy verpligtings teenoor die Pamodzi-likwidateurs nie.

Die hofdokumente vir ’n sekwestrasieaansoek teen oudpres. Nelson Mandela se kleinseun Zondwa, wat Zuma se vennoot in Aurora was, is ook reeds opgestel.

“Dit sal vandeesweek deur die hooggeregshof in Kaapstad aan Mandela bestel word.”

Zuma en Mandela het in 2009 die Pamodzi-goudmyne oorgeneem nadat die vorige eienaar onder voorlopige likwidasie geplaas is.

Aurora kon egter nie die nodige finansiering bekom om die myne weer produktief te kry nie. Die myne het vervolgens verval en is deur onwettige myners gestroop. Meer as 5 000 werknemers van Pamodzi het hul werk verloor en is sonder enige vergoeding aan hul eie lot oorgelaat.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!