Zuma soos benoude kat wat benoude spronge maak

Pres. Jacob Zuma toon tekens van ’n desperate man wat dit al hoe moeiliker vind om die druk waaronder hy verkeer op ’n rasionele manier te verwerk.

Sy jongste bewering dat die probleme wat die ANC teister die gevolg is van ’n sameswering deur Westerse lande wat hom en die ANC wil ontsetel, grens aan die desperate.

Zuma was tussen die Westerse leiers op verlede week se beraad van die G20-lande. Hy sou daar agtergekom het die kwessies waaroor hulle hulle bekommer, is die groot uitdagings van ons tyd: klimaatverandering, internasionale handel, internasionale terreur, die bedreiging van Noord-Korea en die posisie van Afrika in die wêreld.

Die probleme van Suid-Afrika, dié van die ANC en van Zuma self, was waarskynlik nie eens ’n spikkeltjie op die radar van die wêreldleiers nie.

Met sy beskuldiging van Westerse inmenging in Suid-Afrika se politiek, doen
Zuma wat mense wat hul eie probleme skep, gewoonlik doen: soek na sondebokke om te blameer vir jou selfopgelegde mistastings.

In die ou dae het die Nasionale Party altyd die vinger gewys na die “Rooi Gevaar” of “kommuniste onder die bed”.

Maar soos met die ou Natte, is die sondes van die nuwe Natte (die ANC) besig om hulle in te haal.

Die ANC het verlede week ná sy nasionale beleidskonferensie te kenne gegee dat hy dit nog nie oorweeg om met ander partye in koalisie te gaan sou hy nie ’n volstrekte meerderheid in die verkiesing in 2019 behaal nie.

Dit is kortsigtig en spreek van ’n gebrekkige begrip van die werklikheid. Die aanduidings is sterk dat die ANC nie ’n volstrekte meerderheid sal behaal nie en dat die party dan noodgedwonge in ’n koalisie sal moet gaan.

’N BENOUDE KAT WAT BENOUDE SPRONGE MAAK? INDERDAAD.

Vir geharde ANC-kaders is dít ’n ongehoorde en verwerplike idee – selfs net om dit te sê. Die party het duidelik niks geleer uit die munisipale verkiesing van 2016 nie.

Maar wag, die verlies van drie ­metro’s – Johannesburg, Tshwane en Nelson Mandelabaai, en byna ’n vierde, Ekurhuleni – was mos die werk van daai agterbakse Westerse lande?

En dis seker dieselfde Westerse samesweerders wat agter die opstande onder die ANC se veterane, vakbondgenote en die SAKP sit? Dit is mos hulle wat al die groeiende kritiek teen Zuma orkestreer.

’n Mens kan nie help om te wonder hoe lank dit gaan neem voordat adj.pres. Cyril Ramaphosa en SAKP- kamerade soos Jeremy Cronin uitgewys gaan word as lakeie van daardie bose Westerse magte nie.

Die skrif is al hoe duideliker aan die muur vir Zuma, maar hy weier om dit te lees. Hy verkies eerder om fabelagtige komplotte oral rondom hom te sien. ’n Benoude kat wat benoude spronge maak? Inderdaad.

Dit lyk al hoe duideliker dat Nko­sazana Dlamini-Zuma, Ramaphosa se vernaamste teenstander om Zuma as ANC-leier op te volg, baie hard sal moet werk om die afgevaardigdes na Desember se verkiesingskonferensie te oortuig sy is die beste kandidaat.

’n Mens wil nie onregverdig wees teenoor haar nie, maar dit word allerweë aanvaar dat sy nie veel beter as haar gewese man sal wees nie én dat sy hom waarskynlik sal probeer beskerm teen die honderde klagte van korrupsie teen hom as hy nie meer ANC-leier of staatshoof is nie.

Sy doen geen moeite om haar te distansieer van Zuma se mistastings nie. Sy is tjoepstil oor die vertrapping van sy ampseed, asook oor staatskaping en die Guptas.

Só versterk sy bloot die groeiende vermoede dat Suid-Afrika en baie in die ANC al hoe minder aptyt het om een Zuma vir ’n ander te verruil.

Bron: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!