Zuma speel nou met vuur in baie droë gras: jeug van SA moet optree as soldate vir radikale ekonomiese transformasie

Pres. Jacob Zuma speel met vuur as hy sê Suid-Afrika se jeug moet die “soldate” van sy mantra van radikale ekonomiese transformasie wees.

Sy flirtasie met dié soort populistiese retoriek kom van ver af. Namate hy toenemend polities op die agtervoet geraak het, het dit teen dié tyd al ’n vaste kenmerk van sy politieke mondering geword.

Die Zuma-kamp het reeds voor die Polokwane-konferensie in 2007 populistiese vure aangesteek wat vinnig versprei het in die droë gras van politieke verdeeldheid en materiële ongelykheid tussen die wit en swart elite aan die een kant, en armes aan die ander kant.

Dit is juis hierdie retoriek wat ook die meteoriese opgang van Julius Malema – eers in die ANC onder Zuma se vlerk en toe daarbuite in die EFF se rooi gewaad – moontlik gemaak het.

En noudat ­Malema en die EFF stadigaan die ANC se steun begin uitkalwe, raak dit vir Zuma toenemend nodig om die rou en gevaarlike populisme van sy eertydse wonderkind na te jaag.

Hy het die populistiese tier aan die stert beet en kan nie bekostig om te laat los nie, want dan word hyself verskeur.

Hoe gevaarlik dié soort retoriek kan wees, is ­gesien tydens die #FeesMustFall-opstande wat ten dele met ondeurdagte beloftes van gratis tersiêre onderrig te make gehad het.

En te midde van die werkloosheid, veral onder die jeug, wat op van die hoogste vlakke tot nog toe is, moet jy wonder of Zuma werklik ’n benul het van hoe droog die gras is en hoe hoog die vlamme nog kan brand.

As hy nou ook sê die jeug moet as soldate vir radikale ekonomiese transformasie optree, is dit niks minder nie as ’n oorlogsverklaring met ’n rasse­ondertoon in die konteks van die manier waarop hy en sy kliek ook “witmonopoliekapitaal” tot die vyand verklaar.

Die werklikheid wat by die stembus verreken moet word, is egter dat gefrustreerde verwagtinge en persepsies van voortgesette ontneming regstreeks toe te skryf is aan die Zuma-regering se ­hopelose landsbestuur en skandalige gebrek aan ­lewering. Dít is ’n werklikheid wat populistiese ­retoriek nie kan verander nie.

Bron: Netwerk24


Enjoyed this post? Share it!