Zuma stook rassehaat met sy uitlatings oor grond – DV

Jacob Zuma stook rassehaat met sy uitlatings dat grond die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid in die land en dat die grond in Suid-Afrika gesteel is. Met hierdie opmerking teiken Zuma die wittes in Suid-Afrika asof hulle die oorsaak is van armoede, ongelykheid en werkloosheid. Daar word ook gereeld in die parlement deur die ANC en EFF gesê dat wittes het die grond gesteel.

So sê die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald, in ‘n verklaring wat op sogenaamde Menseregtedag uitgereik is.

Wat tans as Menseregtedag bekendstaan, is in wese Sharpvilledag, waartydens 69 mense deur die polisie doodgeskiet is toe ‘n optog gewelddadig geword het in 1960.

Die dag is gebruik deur veral ANC-politici om weer hulle anti-blanke toesprake te hou, en te wys op die slegtheid van apartheid. Ook die DA-leier, Mmusi Maimane, het die geleentheid gebruik om te wys hoe sleg apartheid en kolonialisme is, en die geleentheid gebruik om weer eens sy voorganger, Helen Zille, te repudieer oor bepaalde van haar opmerkings.

Dr. Groenewald sê Zuma en die ANC maak van Menseregtedag ‘n leë dop wat nie op enige wyse gevier kan word nie. “Die ANC se grootste prestasie sedert 1994 is sekerlik dat hulle dit reggekry het om feitlik alle minderhede in die land te vervreem.”

“Die ANC se beleid van rasseklassifikasie in die ekonomie deur middel van regstellende aksie en swart ekonomiese bemagtiging skep bloot diepe rasseverdeling in ʼn land waar almal se bydraes nodig is om die ekonomie te groei en armoede aan te pak.” Dr. Groenewald sê witmense word deur middel van ANC-wetgewing benadeel.


Enjoyed this post? Share it!