Zuma strategie al hoe duideliker

ANC-president, Jacob Zuma, se ex-vrou gaan volgens ‘n aankodiging ingesweer word as ‘n lid van die parlement. Sy was voorheen minister in Zuma se kabinet totdat sy voorsitter van die Afrika-Unie geword het.

Daar word druk bespiegel dat haar aanstelling kan lei tot ‘n kabinetskommeling, omdat Zuma haar as minister wil aanstel om haar kanse te vergroot om hom as ANC-leier en president op te volg.

Binnekringe in die ANC verwag dat sy die kommuniste se leier, Blade Nzimande, gaan vervang as minister van hoër onderwys, omdat daar geen liefde meer is tussen Zuma en Nzimande nie.

Daar is egter ander gesaghebbende bronne wat verwag dat sy selfs Cyril Ramaphosa se pos as adjunkpresident kan oorneem.

Om sy posisie verder te verstewig gaan Zuma poog om Leanne Williams van die Patriotiese Alliansie as adjunkminister aan te stel. Gerugte word al hoe sterker dat die oud-veroordeelde, Gayton McKenzie, en Kenny Kunene ‘n sterk invloed uitoefen op Zuma.

Al die verwikkelinge is deel van Zuma se plan om homself te beskerm teen moontlike vervolging rakende die staatskaping asook die ander talryke klagtes teen hom.

Die “nuwe” Guptas tree nou na vore in die vorm van McKenzie en Kunene wat klaarblyklik agter die e-posse sit wat handel oor Ramaphosa se buite- egtelike eskapades om hom in diskrediet te bring.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!