Zuma: Strenger optrede teen rassisme nodig

Strenger maatreëls is volgens pres. Jacob Zuma nodig teen rassisme.

Hy het dié opmerking Donderdag gemaak kort nadat hy sy besorgdheid uitgespreek het oor die gebruik van simbole van rassisme, insluitende die ou Suid-Afrikaanse vlag tydens die onlangse Swart Maandag-optogte teen plaasmoorde.

Dié optrede beteken dat sommige landsburgers na die verlede hunker, het hy in sy jaarlikse toespraak in die Nasionale Raad van Provinsies gesê. “Dié optrede is nie reg nie, dis skokkend en gruwelik onsensitief. Dit dui daarop dat ons steeds ver moet gaan om ’n nuwe samelewing te bou.

“Dit is ook duidelik dat strenger maatreëls nodig is om rassisme in die land te takel. Die departement van justisie is besig om wetgewing te finaliseer om rassisme en haatspraak onwettig te verklaar omdat daar gevolge vir sulke onpatriotiese en verdelende optrede moet wees wat daarop gemik is om ons agteruit te neem,” het hy gesê.

Zuma het in die konteks van die ekonomie verwys na die presidensiële fiskale komitee wat hy verlede maand aangestel het en het gesê hulle werk saam met die ministerie van finansies om voor te berei op die 2018-begroting en veral om maniere te vind om die land se fiskale teikens te bereik in ’n “moeilike ekonomiese klimaat met hoë skuldvlakke en laer inkomste”.

Hy het ook vir eenheid onder alle rolspelers gevra in dié moeilike omstandighede.

“Ons het ’n verantwoordelikheid om ons land ekstern te bevorder en om watter interne probleme ook al, op ’n patriotiese en verantwoordelike manier op te los. Om Suid-Afrika aan te val en sleg van die land te praat wanneer dit op sy kwesbaarste is, is onverantwoordelik – veral wanneer dit van Suid-Afrikaners self kom,” het hy gesê.

Maatskaplike toelae wat maandeliks aan 17 miljoen Suid-Afrikaners betaal word, gratis en gesubsidieerde gesondheidsorg, gratis basiese onderwys en munisipale dienste, is deur Zuma beklemtoon as maniere waarop die staat armes tegemoet kom.

Dié maatreëls is volgens hom daarop gemik om die gaping tussen rykes en armes te verklein.

“Ons weet dat baie van die bevoorregtes kwaad word wanneer ons verwys na die nalatenskap van apartheid omdat hulle wil hê dit moet vergeet word.

“Ons sal voortgaan om hard te werk om die verskriklike impak van dié nalatenskap om te keer. Dit is nie reg dat die vlak van inkomste van wit huishoudings ses keer hoër as dié van swart huishoudings is nie.”

Hy het beklemtoon dat die beleid van radikale ekonomiese transformasie van die regering en van die ANC kom en nie van “buite die land” soos baie skinderstories dit wil hê nie.

Hy sê dit was die afgevaardigdes na die ANC se nasionale konferensie in Mangaung in 2012 wat gevoel het dat ekonomiese transformasie vooropgestel moes word in die tweede fase van die vryheidstryd.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!