Zuma vaar uit teen wit mense

Die peilings wys die ANC is onder druk.

Toe ruk pres. Jacob Zuma die afgelope week sy gunsteling-stemwerfwapen uit: Ras. Sy teiken: Wit mense. In Tembisa aan Gauteng se Oos-Rand, waar die EFF ’n bedreiging kan wees, het Zuma gesê wit mense is verantwoordelik vir die armoede van swart mense en herhaaldelik na wit mense as “die onderdrukkers” verwys.

Hy het ook gesê swart kiesers moet “verenig” en stem vir die ANC.

Gister het hy sy aanvalle op die “wit” opposisie voortgesit deur aan ’n skare in Nelson Mandelabaai te sê hulle moenie stem vir die DA nie, want dié party verteenwoordig die nalatenskap van die Nasionale Party.

Zuma het afgewyk van sy voorbereide toespraak, asook van die ANC se verkiesingsmanifes en aan duisende mense gesê wit mense kan nie vertrou word om dié sleutelmetro te regeer nie.

“Ons kan nie regeer word deur die nasate van apartheid nie,” het die president gesê.

Zuma, wat in die Dan Qeqestadion in Zwide deurgaans in Xhosa gepraat het, het gesê die DA se voorsate het oudpres. Nelson Mandela in die tronk gesit, en nou wil hulle Mandela as hul held eien.

“’n Slang is giftig en gee slegs geboorte aan nog ’n slang,” het Zuma gesê.

Kiesers wat vir die DA stem, gaan “agteruit terwyl almal van ons vooruitgang maak”.

Hy het die koms van demokrasie in Suid-Afrika vergelyk met die vrylating van die Israeliete deur die Egiptenare en bygevoeg: “Jy kan Egipte nie verlaat en dan teruggaan nie.”

Bron: Rapport


 

Enjoyed this post? Share it!