Zumpie neem wraak op vyande met nuutste kabinetskommeling

“Zuma moes homself uitgeskommel het,” sê Julius Malema, leier van die EFF, oor die jongste politieke verwikkeling.

“Dit is duidelik ’n konsolidasie van die kaping van die kernkragverkrygingsooreenkoms,” het hy Dinsdag op ’n mediakonferensie in Johannesburg gesê.

Malema het pres. Jacob Zuma ook daarvan beskuldig dat hy die kabinetskommeling gebruik het om politieke wraak te neem en om die faksies in die regerende party te konsolideer voor die ANC se verkiesingskonferensie in Desember, berig Selloane Khalane.

* Malema verwelkom wel die verwydering van dr. Blade Nzimande, leier van die SAKP, as minister van hoër onderwys en opleiding weens sy “onbevoegdheid” en die feit dat hy “toegee aan agendas van die elite”.

Die DA is nie verras nie, sê Mmusi Maimane, partyleier. “Dit is (Zuma se) jongste stap in sy oorlog teen enigiemand wat sy staatskapingsprojek teenstaan.”

Nzimande se afdanking bied ook die geleentheid vir ’n skommeling van Zuma-lojaliste en nie een van hulle is tegemoetkomender as David Mahlobo, nuwe minister van energie, nie.

Mmusi Maimane, DA-leier

Volgens Maimane was Nzimande die ooglopende teiken en volg hy Pravin Gordhan, Derek Hanekom, Mcebisi Jonas en ander wat nie Zuma se opdragte wou uitvoer nie, berig Llewellyn Prince.

“Nzimande se afdanking bied ook die geleentheid vir ’n skommeling van Zuma-lojaliste en nie een van hulle is meer tegemoetkomend as David Mahlobo, nuwe minister van energie, nie.

“Dit is uiteraard ’n poging om nuwe lewe in die ANC se plan te blaas om die land tot ’n multimiljardrand-kernkragtransaksie met die Russe te verbind.” Hanekom, wat as minister van toerisme afgedank is in ’n kabinetskommeling op 31 Maart, het getwiet: “Die groot vraag is: Gaan ons as organisasie aanhou toelaat dat een man doen net wat hy wil?”

Cosatu sê poste in die ekonomie “bloei tans in ’n kommerwekkende tempo weg” en die onsekerheid wat die skommeling gaan meebring, sal die situasie net vererger.

Sizwe Pamla, woordvoerder, sê die vakverbond verwag dat ­kabinetskommelings die regering se vermoë moet versterk. “Ons is nie daarvan oortuig dat dié een daardeur gedryf is nie – as in ag geneem word dat sommige van die ondoeltreffendste ministers, soos Bathabile Dlamini, Nomvula ­Mokonyane en Mosebenzi Zwane, steeds in hul pos is.”

Die Sentrum vir Grondwetlike Regte (CCR) sê in ’n verklaring dit is duidelik die president “word nie deur doeltreffendheid en goeie bestuursbeginsels aangespoor wat kabinetsportefeuljes betref nie”.

“Sy redes vir die skommeling is nie net twyfelagtig nie, maar druis ook in teen sy grondwetlike mandaat om gesonde regering te bevorder. Dit lyk of dit ’n kwalik bedekte poging is om ontslae te raak van politieke teenstanders wat lawaai maak oor die president se vermorsing.”

Prof. Raymond Parsons van die Noordwes-Universiteit se sakeskool sê volgens onlangse navorsing het die gereelde kabinet­skommelings tot gevolg dat ministers minder as ’n jaar saam met direkteurs-generaal werk.

“Dit is nie net nadelig vir beleidskonsekwentheid en besluitneming nie, maar vererger die reeds swak instelling van projekte. Dit dra by tot slegte dienslewering.”

nuwe kabinet

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!