Afriforum en EFF- Vinkel en koljander, die een dalk nes die ander?

Watter duister rol speel Afriforum met sy hofsake en aanklagte teen sogenaamde rassiste en “mense” wat Afrikaner sentimente vertrap?

Nouliks is Vicky Momberg twee jaar tronkstraf opgelê oor die gebruik van die K-woord en ‘n swart student van UP word skuldig bevind aan haatspraak omdat hy gesê het hy haat blankes en as hy net ‘n bazooka of AK47 kry, hy almal sal doodskiet. Die hof beveel hom om verskoning te maak vir sy uitsprake nadat Afriforum ‘n klag van haatspraak teen hom gelê het.

Afriforum aanvaar dan sito-sito sy skriftelike verskoning en beskou die saak as afgehandel.

Dit skreeu ten hemele.

‘n Klompie jare gelede het TLU SA en Afriforum ‘n saak teen Malema gemaak rondom sy Kill the Boer uitsprake. Nadat Malema skuldig bevind is krabbel Afriforum se regsverteenwoordiger, Willie Spies, terug en sê dat hul nie verder op stappe sal aandring nie ten spyte van TLU SA se beswaar.

Hoe verklaar mens Afriforum se optrede? Is hul bang dat hul anderskleurige lede van die moederliggaam Solidariteit gaan aanstoot gee as sou hul aandring op sterker optrede teen swart rassiste? Dalk moet Solidariteit nou maar bekend maak uit wie sy lede bestaan wat betref ras en kleur en waar hul sentiment werklik lê.

Ons weet dat ’n groot persentasie anderskleuriges deel uitmaak van Solidariteit, maar miskien is ’n presiese syfer nodig sodat almal kan besef wie en wat hulle werklik is…

Deur: Fred Schoeman geplaas op Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!