AfriForum versprei ‘rillerstories’ oor SA, sê Sisulu – Haai rerig?

AfriForum versprei “rillerstories” oor Suid-Afrika in die buiteland, het Lindiwe Sisulu, minister van internasionale betrekkinge en samewerking, Dinsdag gesê toe sy die burgerregteorganisasie AfriForum wéér gekritiseer het.

Sy het AfriForum daarvan beskuldig dat hulle die situasie in Suid-Afrika oordryf.

Hulle toon volgens haar geen belangstelling daarin om ’n oplossing vir die grondkwessie in die land te vind nie.

Lede van AfriForum het onlangs na onder meer die VSA gereis om steun te werf teen die moontlike wysiging van die Grondwet om grondonteiening sonder vergoeding moontlik te maak, asook om bewusmaking oor plaasmoorde te bevorder.

Sisulu, wie se departement vroeër ’n beroep op AfriForum gedoen het om op te hou om “onjuiste inligting” oor die land te versprei, het Dinsdag op ’n mediakonferensie by die parlement in antwoord op ’n vraag gesê dié organisasie het alle reg om te mobiliseer vir enige doelwit waaroor hulle steun wil werf.

“Ons glo in vryheid van spraak en daarom is hulle vry om na die VSA en enige plek te gaan om te mobiliseer. Wat ons baie aanstootlik vind, is wanneer hulle die situasie oordryf.

“Ons het beeldmateriaal gesien – foto’s en videogrepe – van dit wat hulle uitgestuur het, veral in Australië, en dit is uiters oordryf.

“Ons het oor en oor, oor ’n lang tyd, gesê die kwessie van grond is iets wat in ons Grondwet vervat is. Dit het ons lank geneem om te kom waar ons is omdat ons baie versigtig was.

“Ons het met die stadige benadering van gewillige koper gewillige verkoper begin. Dit het nie gewerk nie. Ons mense raak ongeduldig. Ons tyd raak op nadat die Grondwet so lank gelede al goedgekeur is.

“Die rillerstories wat in die buiteland versprei word oor wat in Suid-Afrika aan die gang is, is blatant vals en die mense wat dit versprei, het geen belangstelling daarin om ’n oplossing vir die grondkwessie te vind nie. Ons veroordeel dit wat hulle daar buite doen en vra hulle om daarmee op te hou.

“Daar is geen manier waarop ons hulle kan keer om mense te gaan spreek wat hulle wil spreek nie, maar ons doen ’n beroep op hulle as Suid-Afrikaners om nie oordrewe beskouings oor wat in Suid-Afrika aangaan te versprei nie,” sê Sisulu.

Sy het bygevoeg die kwessie word deur parlementêre prosesse hanteer en dat dié prosesse oop sal wees vir enigiemand om hulle daaroor uit te laat.

Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, kon Dinsdag nie dadelik vir kommentaar bereik word nie.

* Sisulu het op dieselfde konferensie die VSA versoek om sy besluit te heroorweeg om hom aan die internasionale kernwapenooreenkoms met Iran te onttrek.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!