Agt beskuldigdes, wat verdink word van die moord op die boer van Coligny is teruggetrek

Die saak teen drie van die agt beskuldigdes, wat verdink word van die moord op die boer Hannes Christie, is Maandag in die landdroshof in Coligny teruggetrek.

Christie (65) is einde Februarie oorval, beroof en vermoor toe hy alleen was op die familieplaas Vlakfontein naby Coligny, waar hy grootgeword het. Hy is met ’n skerp voorwerp op die agterkop gekap. Plaaswerkers het die oggend ná die aanval op sy lyk afgekom. Vuurwapens is onder meer gesteel.

Dit blyk nou drie mans wat aanvanklik weens die moord en rooftog in hegtenis geneem is, was moontlik betrokke by ’n vorige huisinbraak op Christie se plaas, maar nie by die latere rooftog toe hy vermoor is nie. Die moordklag teen Danny Melato (28), Thabiso David Tierman (24) en Attie Seripe (23) is gevolglik teruggetrek.

Die saak teen vyf ander verdagtes, wat later in hegtenis geneem is, gaan egter voort. Orlando Tavares, Donga Jansa, Kosini Qwede, Buti Tlhanke en Katlego Mthinkhulu verskyn weer op 2 Julie in die hof in Coligny op aanklagte van moord en huisroof.

Die direkteur van openbare vervolgings sal na verwagting einde Junie besluit of die saak in die streekhof in Lichtenburg of in die hooggeregshof in Mahikeng aangehoor sal word, het ’n bron na aan die ondersoek bevestig.

Een van Christie se gesteelde vuurwapens en ander eiendom is glo in van dié verdagtes se besit gevind.

Hulle is vroeër borgtog geweier.

Gert Christie, Hannes se broer, het onlangs gesê “die Vader” het hom rustigheid in sy gemoed gegee en dat hy nie met “wrokke” rondloop nie. “Die gereg moet nou net sy gang gaan.”

Cor Christie, Hannes se seun, het kort ná die moord gesê sy pa was sedert sy skooldae betrokke by die boerdery op Vlakfontein. “My oupa (Cor sr.) is dood toe my pa 12 was. My pa het maar sy hele lewe lank op die plaas gewoon en (met graan en vee) geboer,” het Cor gesê.

Hy het vertel sy pa het diep spore in die Coligny- en Lichtenburg-omgewing gelaat. “Hy was betrokke by die reëlings vir die eerste kameelperd-spitbraai in die 1990’s in Coligny. My pa het ’n goeie hart gehad en sou homself in die voet skiet om mense te help, al het hulle hom tevore te na gekom.”

Ian Cameron, AfriForum se hoof van veiligheid, het gesê die organisasie monitor tans die saak. “Indien dit sou gebeur dat nog sake laat vaar word, sal verdere ondersoek ingestel moet word oor die doen en late van die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) op grondvlak in hierdie soort sake.”

Cameron het verduidelik dit het reeds in die verlede gebeur dat verdagtes vrygelaat word, nie weens werklike onskuld nie, maar eerder swak ondersoekwerk en veral swak vervolgingswerk deur die NVG se beamptes op grondvlak. “Byvoorbeeld, in Gauteng is Bernadette Hall se vermoorde man, David Hall, se moordenaars om soortgelyke redes vrygelaat en so ook word daar in baie ander gevalle niemand in hegtenis geneem nie.

“Ons help tans ook met die saak van Nicci Simpson wat nie ver van Bernadette Hall se plaas aangeval is en wie se hande en voete met ʼn elektriese boor deurboor is – tot vandag is daar nog nie een arrestasie gemaak nie,” het Cameron bygevoeg.

Hy het gesê daar is met Simpson se saak eers sowat ʼn maand ná die aanval identikits gedoen en verklarings gefinaliseer.

“Die vermoorde Hannes Christie is een van die meer as 200 slagoffers van die sowat 182 plaasaanvalle wat tot dusver vanjaar gepleeg is,” het Cameron afgesluit.

Foto: Hannes Christie


Enjoyed this post? Share it!