ANC dank Zuma af, maar hy klou soos klitsgras

Die ANC het uiteindelik besluit om sy voormalige leier en tans nog staatshoof, Jacob Zuma, die trekpas te gee en het hom afgedank as president, onder die sagklinkende term dat hy “herroep” word.

Zuma is egter nie lus om sommer netso die trekpas te kry nie en klou steeds aan sy posisie. As hy nie self sy bedanking indien nie, sal die ANC hom deur ‘n mosie van wantroue in die parlement moet verwyder.

Zuma het gevra dat hy nog tussen drie en ses maande gegun  word om sy sake af te handel, onder andere om sy take by die Afrika-Unie te finaliseer, en waarnemers glo dat dit die Russiese kernkrag kontrak insluit. Die ANC het geweier.

Die ANC het egter geen tydraamwerk gestel vir Zuma om te aanvaar dat hy afgedank is nie, en dit het verdere onsekerheid gelaat oor wat werklik gaan gebeur.

Die ANC se huiwering om kragdadig op te tree om van pres. Jacob Zuma ontslae te raak, dui op groot interne verdeeldheid in die regerende party en vrese van die ANC-leierskap dat die party kan skeur indien daar sterker teen die president opgetree word,” sê dr. Pieter Groenewald, leier van die VF Plus.

Dr. Groenewald sê dit is onaanvaarbaar dat die ANC toelaat dat pes. Zuma die land langer gyselaar hou en die geploeter om van hom ontslae te raak, dui duidelik daarop dat die ANC nie in staat is om te regeer nie aangesien hy nie in staat is om sy interne probleme op te los nie.

Volgens dr. Groenewald is die president wel herroep, maar niemand weet wanneer hy gaan nie.

“Die moontlikheid dat pres. Zuma sy sin kan kry om tot ses maande lank as staatshoof aan te bly, is onaanvaarbaar aangesien hy desperaat is en tot enige optrede in staat is wat die land groot skade kan aandoen. Daar is ook geen waarborg dat hy sy woord gestand sal doen en wel sy kantoor na ses maande sal ontruim nie.

“Dit is duidelik dat die president weier om toe te gee aan die ANC se versoek om te bedank. Die parlement sal daarom nou ingespan moet word om teen hom op te tree, moontlik deur ʼn mosie van wantroue.

“Dit is egter belangrik dat die ANC self hierdie mosie bring aangesien die regerende party nie die mosie van ʼn opposisieparty, in hierdie geval die EFF, sal steun nie. Indien die EFF erns daarmee het om van die president ontslae te raak, sal hy sy mosie onttrek.

“Dit is jammer dat ʼn staatshoof, wat geen geloofwaardigheid meer het nie en wat soveel skade aan menseverhoudinge en die land se ekonomie aangerig het, steeds toegelaat word om aan sy magsposisie vas te klou,” sê dr. Groenewald.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!