ANC ‘kan homself nie meer bestuur’ en is besig om te disintegreer

Die ANC kan homself toenemend nie meer bestuur nie en is besig om te disintegreer, sê prof. André Duvenhage, navorsingsdirekteur en politieke ontleder van die Noordwes-Universiteit op Potchefstroom.

Duvenhage is om kommentaar genader oor die verdeelde ANC in die Vrystaat wat die naweek vir die derde keer wil probeer om ’n provinsiale verkiesingskonferensie te hou, terwyl ’n opponerende faksie hom weer tot die hooggeregshof in Bloemfontein wil wend om dit te keer.

“In provinsies soos Noordwes, die Vrystaat, KwaZulu-Natal en selfs die Oos-Kaap lyk dit of die ANC nie konsensus oor sy eie reëls kan kry nie. Daarom moet hy heeltyd op regsprosesse terugval. Die party beweeg in sirkels en gaan nie vorentoe nie.”

Duvenhage sê volgens peilings sal die ANC sowat 50% van die stemme op die provinsiale en nasionale vlak kry in volgende jaar se verkiesing as hy eenheid kan bewerkstellig.

“Maar as ander politieke partye (uit die ANC) ontstaan, sal hy geen volstrekte meerderheid behaal nie. Faksionalisme in die ANC is tans sterker as die vermoë van strukture om orde en stabiliteit te vestig.”

Duvenhage sê hy vermoed die Vrystaat word steeds deur die Magashule-faksie bestuur. Diegene wat gekant is teen die naweek se konferensie, is in die faksie van Thabo Manyoni, ’n stoere ondersteuner van pres. Cyril Ramaphosa en bekend as ’n teenstander van Magashule.

“Dit is ’n klassieke geval van die manipulasie van getalle. Wanfunksionele prosesse vorm deel van die pogings om ’n provinsiale verkiesingskonferensie te hou.”

Hy sê ANC-takke is wanfunksioneel.

Duvenhage sê daar is gerugte dat Ramaphosa bang is vir mobilisering teen hom en daarom die verkiesing volgende jaar so vroeg as moontlik wil hou.

“Takke en distrikte se strukture weerspieël nie meer dit wat op grondvlak aan die gang is nie.”

Duvenhage sê uiteindelik word die uitkomste bevraagteken en in dié geval kan dit voordelig vir die Magashule-faksie wees.

“Die vraag is ook waar lê die rebellie teen Ramaphosa? Ons sien dit in provinsies soos Noordwes, die Vrystaat en KwaZulu-Natal. Dit is ook duidelik dat oudpres. Jacob Zuma in KwaZulu-Natal mobiliseer.”

Magashule probeer as sekretaris-generaal van die ANC nog sy eie agenda in die Vrystaat deurgedruk kry om sy magsbasis te behou.

Duvenhage sê daar is gerugte dat Ramaphosa bang is vir mobilisering teen hom en daarom die verkiesing volgende jaar so vroeg as moontlik wil hou.

“Dit is ook waarom hy Noordwes onder administrasie geplaas het. In KwaZulu-Natal wil hulle hom doodmaak.”

Foto: Prof. André Duvenhage

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!