ANC se politieke voorkeure bedreig watersekerheid

Daar steek groot waarheid daarin dat toekomstige oorloë nie oor grond gevoer sal word nie, maar oor water. Die VF Plus sien daarom ook die departement van water en sanitasie as die belangrikste departement van die regering.

“Tog is die regering bereid om watersekerheid in die waterskaars Suid-Afrika in die gedrang bring weens politieke voorkeure,” het dr. Pieter Groenewald, VF Plus-leier Dinsdag tydens die parlementêre begrotingsdebat van die departement van water en sanitasie gesê.

Groenewald het gesê Israel is die wêreld se voorste kundige op die gebied van ontsouting.

“Hulle was in Suid-Afrika om hul kundigheid aan te bied, maar weens politieke oortuigings is dit van die hand gewys.

“Politiek moet ondergeskik gestel word aan die waterbehoeftes van Suid-Afrika se mense.

“Wat doen die departement om seker te maak dat die kosbaarste bron van lewe bewaar word? Indien gekyk word na die slikdam by Khuma in die Matlosana-munisipaliteit (Hartbeesfontein, Klerksdorp, Orkney, Stilfontein), is die antwoord duidelik dat nie veel gedoen word nie.

“Dié reuse-slikdam het nou al twee keer direk in die Vaalrivier gestort. Op Google kan ʼn mens sien dat die stroom slik gelykstaande is aan die Koekemoerspruit se inloop in die Vaaldam. Dit is bokant die waterwerke wat die hele Matlosana-gebied moet voorsien van water. Die VF Plus het klagtes hieroor by die Groen Skerpioene ingedien, maar daar het niks van gekom het.

Die minister, Gugile Nkwinti, het gepraat oor die belangrikheid van samewerking tussen die departement en private persone en instansies.

Wanneer iets soos die slikdam by Khuma beplan word, opper die gemeenskap wel hul besware.

“Ddie slikdam is daarom aanvanklik afgekeur deur die departement. Later is tog daarmee voortgegaan, en nou dra die gemeenskap die skadelike gevolge.

“Die regering moet ag slaan op insette van die publiek en daadwerklik daarvolgens optree, het Groenewald gesê.

Deur: Vryheidsfront Plus


Enjoyed this post? Share it!