Appartheid kry al weer skuld na hofuitspraak oor plasing van 55 Engelsprekende leerders

As daar nie teen die hofuitspraak wat die plasing van 55 Engelsprekende leerlinge by die Hoërskool Overvaal in Vereeniging verbied, geappelleer word nie, sal dit volgens die ANC-jeugliga “die ou apartheidsera- gesegregeerde onderwysstelsel verskans”.

Die ANC-jeugliga het Woensdag gesê hy is daarom uit die veld geslaan deur regter Bill Prinsloo se uitspraak Dinsdag in die hooggeregshof in Pretoria.

“Regter Prinsloo beweer dat die departement (van basiese onderwys) se opdrag aan die skool om die 55 Engelssprekende leerlinge te akkommodeer onwettig was en nie deur wetgewing ondersteun word nie.

“As die jeugliga glo ons sterk dat regter Prinsloo nie net gefouteer het in sy uitspraak nie, maar dat dit ’n frontale aanval op die ANC-regering se poging is om ’n enkele demokratiese, nierassige en nieseksistiese openbare onderwysstelsel te bou.

“Die uitspraak is ’n duidelike demonstrasie dat sommige ongetransformeerde regters, wat nog terugverlang na die ou apartheidsorde, hul invloed of pos in die regbank misbruik om die radikaletransformasieagenda wat die ANC bevorder te ondermyn,” het Mlondi Mkhize, woordvoerder van die ANC-jeugliga, Woensdagoggend in ’n verklaring gesê.

Volgens Mkhize loof die jeugliga Panyaza Lesufi, Gautengse LUR vir basies onderwys, se openbare uitlatings dat sy departement teen die hofbevel sal appelleer.

Mkhize sê die ANC-jeugliga sal ook ’n vergadering met Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, aanvra en haar versoek om dit te oorweeg om die skolewet te verander sodat die minister, as oppervoog oor die openbare skoolstelsel, demokraties bemagtig word om toelating en taalbeleid vir alle skole in Suid-Afrika te bepaal.

“Ons doen ook ’n beroep op ons geskiedkundige vennoot Cosas (’n studenteorganisasie) om saam met die Gautengse departement van basiese onderwys te staan om hul terrein te verdedig wat deur die uitspraak aangeval word.

“Ons kan nie en sal nie die minderheid toestemming gee om die meerderheid te benadeel nie. Ons kan nie die regte van die meerderheid ondermyn om die minderheid te versadig nie. Afrikaners het reeds vir Orania en as ons nie wakker skrik om onsself teen hierdie dinge in die land te verdedig nie, sal die land weer terug in hul hande wees,” sê Mkhize.

Deur: Netwerk 24


 

Enjoyed this post? Share it!