Bejaarde Boervrou van Bloemfontein aangerand tydens plaasaanval

’n Bejaarde boervrou van Bloemfontein word in die hospitaal behandel nadat sy Maandag ure lank in haar plaashuis net buite die stad deur vier gewapende mans aangehou en aangerand is.

Martie du Plessis (64) van die plaas Deyselsrust net buite Bloemfontein, is Maandag omstreeks 08:00 deur vier gewapende mans by haar huis ingewag nadat sy haar kleinkinders by die skool gaan aflaai het.

Die toneel buite die plaas Deyselsrust net buite Bloemfontein waar vier mans Martie du Plessis ingewag en aangeval het. Hulle het R1 000 van haar geëis om na Johannesburg te reis.Foto: Mlungisi Louw

Sy is verskeie kere met ’n skerp voorwerp in onder meer die kop en been gesteek en hulle het ook gedreig om haar te verbrand voordat sy vasgebind is. Sy kon eers ná 12:00 hulp ontbied nadat hulle weg is.

Dit is die tweede plaasaanval in twee dae in die Vrystaat.

Ferdi Mollentze, ’n familielid van Du Plessis, sê onder omstandighede gaan dit goed met haar.

“Sy is onder sterk verdowing en kon nog nie vertel wat alles met haar gebeur het nie. Sy het ’n groot wond aan die agterkop en been.”

Kapt. Chaka Marope, polisiewoordvoerder, sê die aanvallers, wat klapmusse gedra het, het Du Plessis verskeie kere met ’n skerp voorwerp gesteek en met ’n strykyster gebrand. Hulle het haar vasgebind terwyl hulle die huis geplunder het op soek na waardevolle artikels.

Hulle het net ná 12:00 met twee sakke vol van haar besittings te voet gevlug.

“Nadat hulle weg is, het Du Plessis haar losgewikkel en om hulp gesoek.”

Volgens ’n ingeligte het die mans glo R1 000 van Du Plessis geëis om na Johannesburg te reis. Toe hulle nie kontant kon kry nie, het hulle met waardevolle besittings en ’n selfoon gevlug.

“Verskeie kledingstukke wat waarskynlik aan die aanvallers behoort, is later in die veld, nie ver van die plaas nie, aangetref.”

* Hendrik Roux (75) is steeds in ’n kritieke, maar stabiele toestand in die waakeenheid van die Universitas-hospitaal in Bloemfontein nadat hy en sy vrou, Marie, Sondagoggend deur drie mans op hul plaas Montana aangeval is.

Roux het ernstige beserings aan sy kop opgedoen nadat hy verskeie kere met ’n knopkierie geslaan is.

Deur: Netwerk 24


Enjoyed this post? Share it!