Bejaarde egpaar loop deur in plaasaanval naby Spitskopdam in die Noord-Kaap

’n Bejaarde egpaar is Woensdagoggend vroeg op hul plaas naby Spitskopdam in die Noord-Kaap aangeval.

Hulle is daarna in die waakeenheid van ’n hospitaal in Kimberley opgeneem.

Athol Harvey (80) en sy vrou, Colleen (78), se Mahindra-bakkie is ook gesteel.

Denise Coetzee, die Mediclinic Gariep se woordvoerder, sê Harvey het kopbeserings opgedoen en Colleen beserings aan haar hande en arms.

“Hulle is in ’n stabiele toestand,” sê sy.

Volgens hul dogter Suzanne von Maltitz, wat Woensdagoggend van Ficksburg na Kimberley gery het, het drie mans haar ouers aangerand.

“My ouers is geskop, geslaan en gesteek. Hulle gaan skanderings ondergaan en X-strale word geneem om die aard van die beserings vas te stel.

“Die aanvallers het vuurwapens, geld en diamante geëis. Die mans het met die wit Mahindra Scorpio-bakkie waarop daar relings op die bak is, gevlug. Die registrasienommer is BYM 559 NC.

“My ouers kon die bure bel om hulp te vra.

“Die plaas is sowat 35 km buite Barkly-Wes. Dit is nie ver van ’n diamantmyn wat weer oopgemaak het nie. Ek verstaan daar is baie mense wat by die myn rondhang.”

Die aanval op die egpaar was in dieselfde omgewing van minstens twee ander aanvalle sedert Desember.

Haar ouers het die plaas by haar ouma geërf en hulle woon al hul lewe lank daar.

“My ouers het die afgelope tyd geweldig onder misdaad deurgeloop. Daar was al etlike voorvalle van veediefstal en ’n inbraak by die huis. ’n Maand gelede is ’n bees in ’n strik gevang. Ons moes die beseerde bees slag.”

Von Maltitz is glad nie tevrede met die polisie se vorige ondersoeke nie.

“Al wat ‘n mens kry, is ’n boodskap dat die saak geregistreer is. Niks word verder gedoen nie en al word dit, word ons nie in kennis gestel van die vordering met die saak nie.”

Die aanval op die egpaar was in dieselfde omgewing as minstens twee ander aanvalle sedert Desember. Chris en Polla Hattingh is in Desember op hul plaas aangeval en Glen Steyn en Lorraine Botha twee weke gelede op sy plaas, albei naby die dorp Ulco.

Die polisiewoordvoerder kon nie bereik word om kommentaar oor die voorval en ondersoek te lewer nie.


Enjoyed this post? Share it!