Bejaarde egpaar van Bela-Bela word nuutste slagoffers van plaasaanvalle

In die vroeë oggendure van Dinsdag is ’n bejaarde egpaar aangeval, aangerand en beroof op hul plaas buite Bela-Bela. Na bewering is die slagoffers die ouers van ’n vooraanstaande dokter op die dorp.

Nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, Marius Müller het Woensdag aan Maroela Media gesê dat die egpaar wat in hul 70’s is, omstreeks 01:00 deur vier verdagtes op hul plaas noordwes van die dorp oorval is.

Müller se “Die aanvallers het toegang tot die huis verkry deur die veiligheidshek en voordeur met ʼn koevoet oop te breek. Die egpaar is in hul kamer oorval, aangerand en met sykouse vasgebind.”

Die aanvallers het die bejaarde egpaar gedwing om die motorhuis en kluis oop te sluit. Die aanvallers het onder meer met vier vuurwapens, ’n bedrag geld, platskerm televisie, selfoon, juweliersware, skootrekenaar op die vlug geslaan met die egpaar se twee voertuie. Dit is nie duidelik hoe laat die terroriste die plaas verlaat nie.

Die man kon ongeveer net na 03:00 daarin slaag om homself te bevry waarna hy hulp ontbied het.

Die egpaar, wat alleen op die plaas woon, se seun was eerste op die toneel en het sy ouers behandel. Die man het ʼn harde hou teen sy kop opgedoen en die vrou het kneusmerke aan haar arms. Hulle ontvang traumaberading.

Provinsiale polisiewoordvoerder, Brig. Motlafela Mojapelo, het die voorval bevestig. Die polisie ondersoek ʼn saak van huisroof.

“Een verdagte is reeds ʼn paar uur gelede in Winterveld in hegtenis geneem en die egpaar se Mazda-bakkie is teruggevind. Die verdagte is tussen 30 en 40 jaar oud. Die soektog na die ander verdagtes duur voort,” het Mojapelo gese.

Müller het gesê dié aanval was die tiende landswyd vir die maand Mei.


Enjoyed this post? Share it!