Bejaarde man met knopkieries aangerand tydens plaasaanval

’n Bejaarde egpaar in Reitz-ongewing, Vrystaat wreedaardig aangerand Sondagoggend tydens plaasaanval.

Nasionale operasionele koördineerder van AfriForum, Marius Müller het die aanval bevestig en gesê dat ʼn voorlopige ondersoek dui daarop dat drie gewapende aanvallers die egpaar omstreeks 05:00 oorval het.

“Die 76-jarige man is tydens die aanval na die badkamer gesleep en onder meer met knopkieries aangerand. Hy het erge hoofbeserings opgedoen.”

Die man se vrou is in ’n kamer aangehou, maar kon daarin slaag om hulp te ontbied na die aanvallers te voet oor die nabygeleë koppies gevlug het.

Die beseerde man is opgeneem in die hospitaal in Bethlehem vir behandeling. Sy vrou het nie ernstige beserings opgedoen nie.

Volgens Müller is dit nog nie duidelik wat die aanvallers tydens die rooftog gesteel is nie, maar dit is wel bevestig dat selfone onder meer gebuit is.

Müller het wel genoem dat die egpaar nie aan ʼn mediese fonds behoort nie, maar dat AfriForum en die hospitaal in Bethlehem gereël het dat die man na ʼn hospitaal in Bloemfontein oorgeplaas word.

Die man is Sondagmiddag met ʼn staatshelikopter na die Netcare Universitas-hospitaal geneem vir verdere mediese behandeling.

Die polisie en buurtwagte was op die toneel en ondersoek die voorval.


Enjoyed this post? Share it!