Bekende Boer Van Tulbagh In Wes-Kaap Vermoor Tydens Plaasaanval

Bekende plaasbestuurder en boer van Tulbagh, Martin Louw, 59 jaar is Woensdagaand tydens ’n plaasaanval vermoor.

Volgens polisiewoordvoerder, Lt.kol. Andrè Traut is Louw omstreks 20:30 tydens ’n plaasaanval met ’n skerp voorwerp doodgesteek.

Traut het bygevoeg: “Die onbekende verdagtes het met huisware van die toneel gevlug. Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie en die omstandighede rakende voorval word ondersoek,”

Waterberg Veiligheid en Sekuriteit en Front Nasionaal het op hul onderskeie Facebook-blaaie die boer se naam bekendgemaak.

Volgens Waterberg Veiligheid en Sekuriteit is Louw glo op die plaas ingewag en was sy vrou nie tydens die aanval by die huis nie.

“Ons harte gaan uit na die familie en naasbestaandes van Martin wat wreed vermoor is,” het Front Nasionaal in ʼn verklaring gesê.

“Martin, alombeminde vriend en lid van die gemeenskap, is nog ʼn slagoffer in die sinnelose slagting wat onder ons boere plaasvind. Nog ʼn voedselprodusent, werkgewer, sorgdraer… nog ʼn Afrikaner. Ons dink in ons gebede aan sy mense en aan hierdie stukkende land en hierdie magtelose, moedelose, hartseer volk van ons,” het die party gesê.


Enjoyed this post? Share it!