Bekende inwoner gedood tydens kleinhoewe aanval in Heidelberg, Gauteng

Boet Small ’n bekende gesig in die die Gautengse dorpie Heidelberg is vroeg Saterdagaand op sy kleinhoewe aangeval deur terroriste.

Smal is dood in die aanval en sy vriendin, Esther Ackerman Jooste, is ernstig beseer nadat twee rowers hulle met messe oorval het. Die aanval was omstreeks 17:20 in hul huis in Boschfontein, Heidelberg, terwyl hulle TV gekyk het.

Volgens Ian Cameron, nasionale veiligheidshoof van AfriForum, is Smal in sy arm, in die lies en linkerbors gesteek. Sy kop is toe teen ‘n fontein gekap. Esther het probeer weghardloop, maar sy is ingehardloop en in die rug gesteek.

Volgens kapt. Thivhulawi Tshilate, polisiewoordvoerder, het die rowers die kluis oopgebreek. Hulle het twee rewolwers en die paartjie se selfone gevat en in die rigting van Blesbokspruit, naby die Suikersbosrand-natuurreservaat, gehardloop.

Die tuinwerker het die mans, een in ’n wit en die ander in ’n rooi T-hemp, gesien weghardloop en die buurvrou verwittig. Sy het die polisie gebel.

Terwyl hulle op die polisie gewag het, het ’n groep bure na die rowers begin soek, maar sonder sukses.

Esther is na die Suikerbosrand-kliniek gebring en was Saterdag nog in ’n kritieke toestand.

Sy het Smal skaars ’n week gelede nog op Facebook bedank vir die sewe jaar wat hy ’n “fantastiese man vir my, en pa en oupa en grootoupa” is.

“Dankie, my skat, lief vir jou ook, ek moet jou bedank vir die sewe jaar saam met my,” het Smal gereageer.

Maj.genl. Mumsy Mbele, die Ekurhuleni-oos-klusterbevelvoerder, het die bure geprys wat so vinnig gereageer het en die rowers solank agternagesit het.

Die polisie vra dat enigiemand wat met die ondersoek kan help, hul naaste polisiekantoor kontak of Crime Stop by 0860 010 111 skakel. Wenke sal vertroulik gehanteer word, verseker Tshilate.


Enjoyed this post? Share it!