Berigte doen die rondte dat plaasmoorde daal – Wie probeer hulle bluf? Dit daal gin, dit styg!

Die getal plaasmoorde het nie gedaal soos AgriSA en die polisie sê nie. Die syfers wat hulle gebruik, is nie betroubaar nie, sê TLU SA en die politieke ontleder Piet Croucamp.

Inteendeel, die getal plaasmoorde het volgens TLU SA toegeneem.

AgriSA haal die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) as bron aan.

Croucamp sê misdaadstatistieke word normaalweg per 100 000 aangeteken, maar dat AgriSA dit nie gedoen het nie. “Die dilemma is dat niemand weet hoeveel boere hier in die land is nie.” Daar is 32 000 boere wat vir BTW geregistreer is, maar wat van die res? Hy sê ’n mens moet jou ook afvra of jy van wit boere of swart boere, kommersiële boere of kleinboere, of alle boere praat?

In die eerste twee weke van April vanjaar was daar reeds ’n verskil tussen die SAPD en TLU SA se getal plaasmoorde. TLU SA het drie moorde vir dié tydperk aangeteken en die polisie net een.

Volgens hom is daar dieselfde probleem met ’n behoorlike grondoudit. Hy meen die georganiseerde landbou “het boere in die steek gelaat omdat hulle nie lankal toegesien het dat daar ’n behoorlike grondoudit gedoen is nie.

“Wie weet, dalk sou die gesprek oor onteiening anders verloop het as ons ’n grondoudit gehad het.”

Chris van Zyl van TLU SA sê hy is verstom om te hoor dat die plaasmoordsyfer afgeneem het. TLU SA se syfers is meestal konserwatief, maar dit toon beslis sedert 2011 ’n toename in plaasmoorde.

Hy teken eers gerapporteerde gevalle in sy databasis aan nadat dit geverifieer is met ’n saaknommer by die polisie. Hy werk ook streng volgens die definisie van ’n plaasaanval soos beskryf in die SAPD se Nasionale Landelike Veiligheidstrategie van 2011.

’n Mens sou verwag dat die SAPD se statistieke altyd hoër behoort te wees omdat van amptelike bronne gebruik gemaak word, sê Van Zyl.

Dit is egter nie die geval met plaasmoorde nie, soos gesien kan word uit die geverifieerde syfers vir die afgelope ses jaar.

Volgens TLU SA is 61 boere in 2012-’13 vermoor, 61 in 2013-’14, 68 in 2014-’15 70 in 2015-’16, 78 in 2016-’17 en 70 in 2017-’18.

Volgens AgriSA en die SAPD is 59 boere in 2012-’13 vermoor, 57 in 2013-’14, 60 in 2014-’15, 49 in 2015-’16, 66 in 2016-’17 en 47 in 2017-’18.

Die syfers is vir ’n boekjaar van 1 April tot 31 Maart. In die eerste twee weke van April vanjaar was daar reeds ’n verskil tussen die SAPD en TLU SA se getal plaasmoorde. TLU SA het drie moorde vir dié tydperk aangeteken en die polisie net een.

Van Zyl sê TLU SA ontleed ook wie op plase vermoor word, soos besoekers, wit werkers, swart werkers, familielede en swart of wit plaaseienaars. Hy hou ook boek van swart boere wat in plaasaanvalle vermoor word en die statistieke is nie net dié van wit boere nie.

Van Zyl twyfel nie daaraan dat wit grondeienaars meestal die teiken van plaasaanvalle is nie. TLU SA se syfers wys dit duidelik. Die wreedheid van sekere aanvalle staan soos ’n paal bo water.

Hy sê ’n onlangse ontleding deur James Myburgh, redakteur van die webblad Politics Web, het ook bevind aanvallers teiken wit boere die meeste. Myburgh het bevind dit is die neiging selfs in gebiede waar daar baie swart boere is.

Dr. Jane Buys van Vrystaat Landbou (VL) sê AgriSA hou nie self syfers nie en maak staat op die SAPD se syfers. “Dit is tog die amptelike bron.”

Sy sê wanneer daar oor die wreedheid van plaasaanvalle gepraat word, sal ’n mens ’n steekproef moet doen om dit te vergelyk met huisrowe in dorpe en stede. “ ’n Mens moet appels met appels vergelyk.”

Sy sê navorsing in die Vrystaat wys roof bly die belangrikste dryfveer vir plaasaanvalle, maar in wrede aanvalle word soms afgelei dat die boer iemand, soos ’n vorige werknemer, benadeel het.

Buys sê daar is beslis minder plaasaanvalle en -moorde as in die tydperk van 1997 tot 2004, hoewel daar ’n kommandostelsel was. Navorsing is volgens haar nodig oor waarom die moordsyfer van tussen 153 en 103 per jaar so hoog was.


Enjoyed this post? Share it!