Blinde sambok tref ANC – Ja kry vir julle!

Die ANC-regering se skok oor die visa-aanbod van Australië aan Suid-Afrikaanse boere is lagwekkend gegewe sy eie bydrae tot die skep van die omstandighede wat die Australiese regering bekommer, naamlik wrede plaasmoorde en onteiening sonder vergoeding.

Dit is die mening van adv. Anton Alberts, voorsitter van VF Plus. Hy sê die regering kan eenvoudig nie meer glo die wêreld sal wegkyk terwyl hy in die spore volg van ander mislukte regerings soos Zimbabwe en Venezuela nie.

“Die wêreld is inderdaad besig om kennis te neem van die ware kommunistiese aard van die ANC en daarom moet dié party nie verbaas wees indien daar spontane disinvestering plaasvind en ander state hulp begin aanbied aan geteikende minderhede nie.

“Die ANC moet besef dat talle Europese lande, asook Brittanje en Amerika, skepties en met kommer na die ANC-regering begin kyk en soortgelyke aksies van visa-aanbiedings en disinvestering van elders kan te wagte wees.

“Die enigste wyse hoe die ANC Suid-Afrika se aansien in die wêreld kan herstel, is om die beleid van onteiening sonder vergoeding te laat vaar, plaasmoorde te bestry met effektiewe polisiëring en minderhede se regte as volwaardige burgers te bevestig deur Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB) en Regstellende Aksie (RA) uit te faseer.

“Tot dit nie gebeur nie sal die wêreld Suid-Afrika met toenemende wantroue gade slaan en sal beleggings en talentvolle en hardwerkende burgers die land bly verlaat,” sê adv. Alberts.

Intussen het die minister wat buitelandse skae hanteer, Lindiwe Sisulu, die Australiese saakgelastigde in die land ontbied om te eis dat die Australiese minister die aanmerkings, dat blanke boere van Suid-Afrika gehelp moet word, terugtrek.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!