Boer se brief oor onteiening aan Cyril, Malema

Graag skryf ek hierdie brief oor die beplande onteiening sonder vergoeding en hoe dit boere en gemeenskappe gaan raak aan pres. Cyril Ramaphosa of Julius Malema.

Ek is ’n boer in die Vrystaat, wat op ’n plattelandse dorp woon. Die hele omliggende gemeenskap is afhanklik van winsgewende boerderybedrywighede.

Ek het ’n bietjie gaan dink en na my beskeie mening gaan die volgende met ons dorp gebeur as grond sonder vergoeding onteien word.

* Daar is ongeveer 100 boere in my dorp se omgewing. Kom ons neem aan dat elke boerdery ongeveer 15 mense in diens het (’n uiters konserwatiewe skatting) en gestel elke werker het drie afhanklikes. Dit sal beteken dat 6 000 mense direk geraak sal word. Elke werker verdien die minimum loon, dus sal R4,8 miljoen (1 500 x R3 200) nie meer in ons dorp bestee kan word nie.

* Die meeste boere in ons omgewing saai ook. Dus word die bemarkers van saad, kunsmis en onkruiddoder en hul gesinne indirek geraak. In my dorp is 12 van hierdie manne wat sonder werk gaan wees en hul inkomste sal nie meer in die dorp bestee word nie. Gestel elke agent het twee afhanklikes, dan sal 24 persone geraak word.

* In my dorp is daar ’n bekende landboukoöperasie wat sake met boere doen. Hulle ontvang graan, verkoop en herstel trekkers, stropers en so meer en verkoop ook alledaagse artikels wat in die boerdery benodig word.

Die hele omliggende gemeenskap is afhanklik van winsgewende boerderybedrywighede.

Net in hierdie koöperasie alleen is daar 50 mense wat geraak gaan word en hul inkomste sal nie meer in die dorp bestee word nie. Gestel elke persoon hier het ook twee afhanklikes, dan sal 150 persone geraak word.

* Boere het bakkies nodig om op die plaas te kan ry en werk. In my dorp is daar ’n agentskap wat bakkies verkoop en versien. By dié onderneming werk daar tans 12 mense. As ons bereken dat elkeen twee afhanklikes het, is daar dus 36 persone wat geraak word.

* In my dorp is daar ses dokters en twee tandartse. Gestel daar is vier mense wat by elke praktyk werk (skoonmakers, klerke en so meer) en gestel elkeen het twee afhanklikes, dan sal 36 mense geraak word

* In ons dorp is daar ’n skool met ongeveer 500 kinders. Gestel daar is 20 mense werksaam by die skool: die skoolhoof, onderwysers en personeel wat skoonmaakdienste lewer. Indien grond sonder vergoeding onteien word, sal hierdie skool sy deure moet sluit. Gestel elke persoon wat hier werk, het twee afhanklikes – dit sal beteken dat 60 mense en 500 kinders geraak word.

As ek begin optel, raak die boerderybedrywighede van 100 boere ongeveer 6 770 mense in my dorp.

Dit is net van die belangrikste ondernemings wat geraak sal word. As ek begin optel, raak die boerderybedrywighede van 100 boere ongeveer 6 770 mense in my dorp.

Aangesien die hele gemeenskap afhanklik is van geld wat deur boerdery gegeneer word, wat gebeur met die volgende ondernemings?

* Spar (tien mense werk hier);

* OK Foods (tien mense werk hier);

* Poskantoor (agt mense wat hier werk);

* Twee drankwinkels (agt mense wat hier werk);

* Vier prokureurs-praktyke (12 mense wat hier werk);

* Twee ysterwareondernemings (agt mense wat hier werk);

* Drie kerke (agt mense wat hier werk);

* Drie banke (20 mense wat hier werk).

Daar is nog verskeie ander ondernemings en hul personeel wat geraak sal word.

My slotsom is dat ons dorp in duie sal stort, ondernemings se deure sal moet sluit en werkloosheid sal toeneem.

’n Honderd boere dra ons hele gemeenskap en ’n groot getal inwoners is daarvan afhanklik. Ek hoop die regering hou in gedagte wat ek hier geskryf het.


Enjoyed this post? Share it!