Boer wie se skape gesteel is, kry boete en misdaadrekord –kriminele loop nog vry rond en slagoffer moet boet

’n Boer wat gehelp het om diewe vas te trek wat sy vee gesteel het, het nie net self twee naweke gelede in die selle geslaap nie, hy het nou ook ’n misdaadgeskiedenis.

Donevan Janse van Rensburg (23) van Middelburg, Mpumalanga, sê hy voel dubbel ingeloop.

Einde 2016 is 11 van sy skape ter waarde van sowat R18 000 gesteel. Hy het saam met die polisie gewerk om die diewe vas te trek.

Die twee vermeende veediewe staan tans tereg in die landdroshof in Middelburg.

Janse van Rensburg moet teen hulle getuig, maar hy sê hy het al vier keer die hofsaak bygewoon en elke keer is die saak uitgestel.

“Ek was elke keer daar, maar die vyfde keer, op 4 Mei, was ek te besig om te stroop en ek kon toe nie gaan nie,” sê Janse van Rensburg.

Volgens hom is die saak herhaaldelik uitgestel onder meer omdat die beskuldigdes se prokureur nie beskikbaar was nie en ’n ander landdros aan die saak toegewys moes word.

Dit was ’n duur fout om nie op 4 Mei op te daag nie, want die hofsaak het uiteindelik aangegaan.

Die polisie het Janse van Rensburg dié dag gebel om te sê hy moet dadelik hof toe kom.

“Hulle het my so 12:00 die middag gebel. Ek het vir hulle gesê ek kan nie. Ek is 80 km weg van hulle af besig om te stroop. Hulle het tevrede met my antwoord geklink.”

Drie weke het verbygegaan sonder dat enige haan oor Janse van Rensburg se hof-afwesigheid gekraai het.

“Op Saterdag 26 Mei was ek weer besig op die lande toe my vrou my bel. Sy het gesê die polisie is daar.

“Die polisie het my ingelig dat daar ’n lasbrief vir my inhegtenisneming uitgereik is – vir minagting van die hof.”

Die beamptes het gesê hy moet saam met hulle ry Middelburg-polisiekantoor toe.

Janse van Rensburg sê die beamptes het hom verseker hy sal die papierwerk kan doen, borgtog betaal en weer huis toe gaan.

Dit was nie die geval nie en hy moes twee nagte in die selle deurbring voordat hy die Maandag voor ’n landdros kon verskyn.

Kapt. Kanyisile Zwane, ’n polisiewoordvoerder, sê Janse van Rensburg het ’n skulderkenningsboete van R500 weens minagting van die hof betaal.

Janse van Rensburg sê sy vonnis was die boete of drie maande tronkstraf.

“Dis nou verby en dit help nie ek werk myself op nie. Ek het ’n fout gemaak. Ek moes by die hof gewees het.”

Gister het Janse van Rensburg aan Rapport gesê hy is Vrydagaand weer besteel. “Dié keer was dit drie beeste. R30 000 se skade. Maar ek gaan dit nie aanmeld nie. Kyk wat het die laaste keer gebeur.”

Hy sê hy sal vir seker op 6 Julie in die hof wees wanneer die veediefstal-saak weer in die hof voortgaan.


Enjoyed this post? Share it!