’n Vermeende rower is glo doodgeskiet en ’n geldwag gewond in ’n transitoroof in Boksburg, aan die Oos-Rand.
Die voorval het vroeg Donderdagoggend in Atlasweg gebeur.
’n Verbyganger, Jacques du Plessis, het ’n video van die toneel op Twitter geplaas, en dit as ’n oorlogsone beskryf.
Yusuf Abramjee, bekende gemeenskapsaktivis, het op Twitter gesê ’n wag is gewond en een van die vermeende rowers is doodgeskiet. Die geldwa van die G4S-veiligheidsmaatskappy is opgeblaas en skote is gehoor, het Abramjee getwiet.
EWN het berig motoriste het omstreeks 06:00 skote en ontploffings gehoor.
’n Ooggetuie het aan die radiostasie gesê hy was midde-in die skietery. ’n Man het reg agter hulle in die rigting van die geldwa geskiet.
TimesLive het berig ’n tweede roof het by die N12 in die Gilloolys-omgewing plaasgevind. Polisielede was glo besig met ’n operasie om verdagtes aan te keer.
Dit is nog onbekend of enige geld geroof is.
Die polisiewoordvoerders was steeds op die toneel en kon nie dadelik nog besonderhede verskaf nie.