Buiteland neem notisie oor situasie van Suid-Afrikaanse landbouers

TLU SA het met groot waardering kennis geneem van stemme wat in die buiteland opgaan oor die situasie van Suid-Afrikaanse landbouers.

“Ons bedank die Australiese regering in besonder vir die feit dat hulle immigrasie kanale wil vergemaklik indien die situasie in Suid-Afrika onhoudbaar sou word. Dit is ‘n wonderlike gebaar wat ons werklik hoop nooit nodig sal wees om te gebruik nie,” sê die president van TLU SA, mnr. Louis Meintjes.

Mnr. Meintjes sê dit is betreurenswaardig dat die minister van internasionale betrekkinge, Lindiwe Sisulu, dit nodig ag om die Australiese verteenwoordiger in Suid-Afrika na haar te ontbied in die hoop om ‘n amptelike verskoning te kry. “Ons hoop dat Australië geen verskoning sal aanbied nie, want die feite waarop die aanbod aan Suid-Afrikaanse boere gemaak is, is heeltemal korrek, en geen verskoning is nodig as geen leuen uitgespreek word nie. Inteendeel, die ANC en die EFF hoort eerder verskoning aan te bied vir hulle volgehoue leuen dat die boere die grond gesteel het,” sê mnr. Meintjes.

Mnr. Meintjes het ook sy waardering uitgespreek teenoor Vlaamse studente wat op 22 Maart ‘n stille protes wil hou teen die moorde op Suid-Afrikaanse boere. “Dankie, Wêreld,” was mnr. Meintjes se woorde.

“Ons is dankbaar dat TLU SA se internasionale aksies oor jare heen, nie vergeefs was nie en dat die wêreld kennis neem van ons probleme.”

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!