Chaos breek uit toe harkoppige EFF-raadslid weier om op te staan tydens raadsvergadering

‘n Raadslid van die EFF in die Sol Plaatje-munisipaliteit in Kimberley se hardkoppige weiering om uit haar stoel op te staan wanneer sy kwessies opper, het pandemonium op Woensdag se raadsvergadering veroorsaak.

Rdl. Millicent Mpangiso (EFF) het uiteindelik vir ’n hele ruk met die speaker, Elizabeth Johnson (ANC), oor dié onbenullige kwessie geredekawel.

Mpangiso wou aansluit by opmerkings van rdl. Phillip Vorster (DA) wat gesê het dat gereelde brande by die Homevale-rioolaanleg in Kimberley die gevolg van swak bestuur van die gerief en onvoldoende beplanning is.

Mpangiso het skaars vanuit haar stoel begin praat, toe Johnson haar in die rede geval het.

“Jy moet opstaan wanneer jy ’n kwessie opper, raadslid,” het Johnson haar herinner.

“Nee, ek gaan nie opstaan nie,” het Mpangiso gereageer.

“Wanneer jy ’n kwessie opper móét jy opstaan,” het Johnson haar gelas.

Hierop het Mpangiso gekla dat die mikrofoon te laag is en dat niemand haar sal kan hoor indien sy uit haar stoel opstaan nie.

Sy is toe weer gevra om op te staan, waarop Mpangiso gesê het: “Julle moet dan vir ons hoër mikrofone kry.”

Teen hierdie tyd was daar ’n onderlangse gebrom in die raadsaal.

Ná verskeie verdere versoeke om op te staan het Mpangiso gesê dat sy geensins die ordereëls van die huis oortree deur sittend te bly nie.

“Waar staan dit in die ordereëls dat raadslede moet staan wanneer hulle ’n kwessie opper?” wou sy weet.

Rdl. Ronney Morwe (ANC) het Mpangiso gemaan om die raad te respekteer. “Jy moet verstaan hierdie is ’n koukus-huis. Daar is geen manier wat jy na die parlement kan gaan en praat terwyl jy in jou stoel sit nie. Jy moet die raad respekteer,” het Morwe gesê.

Waar staan dit in die ordereëls dat raadslede moet staan wanneer hulle ’n kwessie opper?

Hierop wou Mpangiso weet hoe sy disrespekvol teenoor die raad optree.

Teen hierdie tyd het dinge luidrugtig geraak met EFF- en ANC-lede wat op mekaar geskree het.

Johnson moes herhaaldelik met haar hamertjie teen die tafel kap om orde te herstel.

ANC-raadslede het Johnson versoek om sekuriteitswagte te laat kom om Mpangiso te verwyder omdat sy buite orde is.

Mpangiso het aangehou redekawel totdat ’n groep sekuriteitswagte agter haar gaan staan het, gereed om haar uit die raadsaal te help.

Mpangiso het voet by stuk gehou dat sy mag sit wanneer sy ’n kwessie opper.

Uiteindelik het ’n moedelose Johnson die vergadering afgesluit. “Almal staan op en gaan uit,” het Johnson beveel.

Mpangiso het later uit haar stoel opgestaan, maar eers nadat die raadsvergadering verdaag het.


Enjoyed this post? Share it!