Cyril verstaan nie gelyke regte vir almal in nuwe SA

President Cyril Ramaphosa se verwysing na bevoorregting van die wit jeug en Regstellende Aksie (RA) en Swart Ekonomiese Bemagtiging (SEB), wys dat hy nie die argument van gelyke regte vir almal in Suid-Afrika verstaan nie.

Die leier van VF Plus, dr. Pieter Groenewald, sê Ramaphosa se gebruik van werkloosheidstatistiek wat daarop dui dat 20% van die swart jeug werkloos is teenoor slegs 7% wit jeug, en sy aanname dat die wit jeug daarom steeds bevoorreg is, beteken dat hy eers gelykheid sal aanvaar as albei groepe dieselfde werkloosheidskoers het.

“Jong wit mense word intussen daarvan weerhou om volgens hul vermoë te presteer en om ʼn groter bydrae te lewer tot die ontwikkeling van Suid-Afrika. Meriete is dus nie die maatstaf nie, maar bloot statistiek ten opsigte van wit en swart.

“Ramaphosa gee hierdeur ook nie erkenning aan jong wittes wat nieteenstaande die diskriminasie van RA en SEB steeds uitnemend presteer om van Suid-Afrika ʼn beter plek te maak nie. Die VF Plus aanvaar die uitnodiging van die president om hieroor met hom in gesprek te tree,” sê dr. Groenewald.

Deur: Die Vryburger


Enjoyed this post? Share it!