Cyril, “Wie se grond wil jy vat?” vra LP’s

Pres. Cyril Ramaphosa sal Dinsdag in die parlement moet antwoord wie presies se grond sal sonder vergoeding afgevat word en wie dit sal kry.

Emosionele tonele het hulle Maandag in die nasionale vergadering (NV) afgespeel soos veral opposisie-LP’s een vir een die grondkwessie tydens die debat oor Ramaphosa se staatsrede opgehaal het.

Ramaphosa sal Dinsdagmiddag sy repliek op dié debat lewer.

Sy beloftes van ’n nuwe era met nuwe hoop en optimisme is deur elke spreker verwelkom, sowel as sy planne om die kabinet kleiner te maak, korrupsie vas te vat en om sukkelende staatsentiteite reg te ruk.

Hy het ook groot lof gekry oor planne om die ekonomie reg te ruk en veral werk vir jeugdiges te skep.

Daar was weer oproepe dat ministers wat by staatskaping betrek word, die trekpas kry.

Maar veral die grondkwessie het spreker ná spreker warm onder die kraag gehad.

Ramaphosa het Vrydag in sy staatsrede gesê sy administrasie is vasbeslote dat onteiening sonder vergoeding toegepas sal word op ’n wyse wat landbou-produksie verhoog, voedselsekerheid verbeter en verseker dat die grond terugbesorg word aan mense van wie dit tydens apartheid en kolonialisme afgevat is.

Veral Mosiuoa Lekota, Cope-leier, was emosioneel en het reguit vir Ramaphosa, wat teenwoordig was, gesê die Grondwet laat nie grondonteiening sonder vergoeding toe nie.

Mosiuoa Lekota
“Wie se grond gaan jy vat? Dié van die agterkleinkinders van die Franse Hugenote en Duitsers wat weens hul godsdienstige vervolging in hul tuislande destyds hierheen gekom het?”

Dr. Mbuyiseni Ndlozi, EFF-LP, wou hiertydens van Lekota weet: “Waarom is jy Robbeneiland toe (as politieke gevangene)? Wat het jy daar gedoen? Watter alternatief het jy (vir grondhervorming)?”

Lekota wou daarna weet of Ramaphosa grond sal vat van nasate “van Indiese arbeiders wat hierheen gebring is om op suikerplantasies te werk” of van nasate van “Maleier-slawe?”

Julius Malema, EFF-leier, het hiertydens opgespring en gesê: “Ja.”

Lekota wou ook weet aan wie die onteiende grond gegee sal word. “Julle sê aan ons mense. Wie is nie ons mense nie. Die Grondwet sê ons is almal Suid-Afrikaners met regte”.

Mangosuthu Buthelezi, IVP-leier, wou weet waarom die ANC grond van die Zoeloes, wat deur die Ingonyama-trust besit word, wil afvat.

“Die beleid van grondonteiening sonder vergoeding, wat die wysiging van die Grondwet sal vereis, kan sekerlik nie teen die armstes gebruik word nie.”

Dr. Pieter Groenewald
Mmusi Maimane
Volgens Buthelezi het tradisionele leiers nooit verwag dat hul grond eerste in die slag sal bly nie.

Dr. Pieter Groenewald, VF+leier, het gesê die blote aanvaarding van die beginsel van grondonteiening sonder vergoeding is negatief vir die ekonomie en voedselsekerheid.

“Waarom wil u dit doen, want om grond net aan iemand te gee maak nie iemand ryk nie. U eie minister het gesê 90% van grondhervormingsprojekte het misluk. Die VF+ verwerp grondonteiening sonder vergoeding.”

Malema het gesê daar moet geen voorwaardes wees vir die onteiening van grond sonder vergoeding nie, “want in die verlede het hulle net die grond gevat”.

Mmusi Maimane, DA-leier, het gesê grondhervorming kan versnel word sonder om die Grondwet te wysig.

“Ons kan grondhervorming versnel deur korrupsie en ondoeltreffendheid uit te roei.”

Mcebisi Skwatsha, adjunkminister van landelike ontwikkeling en grondhervorming, het gesê geen besluit oor die onteiening van grond sal afgedwing word nie.

“Ons sukkel egter nog met die nalatenskap van apartheid en kolonialisme. Baie grond is nog in die hande van ’n paar mense. Ons grondoudit wys dat die minderheid nog steeds die meeste grond besit.”

Skwatsha het gesê die regering hou in Maart ’n beraad om presies te bepaal hoe grondonteiening sonder vergoeding gedoen moet word.


Enjoyed this post? Share it!